

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 March 2012
“Deesdae is dit mode vir prokureurs om saam met staatsaanklaers Kentucky te eet …”
Só het ‘n man van Musina verwys na 'n voorval waarin ‘n staatsaanklaer na bewering met ‘n prokureur gekonkel het om 'n vermeende inbreker te help om tronkstraf vry te spring. Die beskuldigde, Mishack Baloyi, wat tereg gestaan het op ‘n klag van huisbraak, het amper deur die krake geglip nadat die aanklaer die klag wou verander na gewone betreding.
Mnr. Wessel Veldman, wat ‘n getuie in die saak is aangesien hy Baloyi gearresteer het, het verlede week aan die Zoutpansberger vertel waarom hy vuilspel vermoed het.
Veldman het Baloyi op 8 Februarie vanjaar op heterdaad betrap waar hy besig was om skrootmetaal weg te dra uit ‘n huis in Musina se Davieslaan. Die huis het glo behoort aan ‘n vrou wat kort tevore oorlede is. Volgens Veldman is sowat R30 000 se skade aan die huis aangerig tydens die inbraak.
Veldman, ‘n oud-polisieman, het Baloyi in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig sodat hy voor die hof gebring kon word. Tydens Baloyi se hofverskyning verlede Maandag (19de) het die saak egter byna uitgerafel.
Volgens Veldman, wat vir die Staat sou getuig het, het hy onraad vermoed toe hy sien hoe die staatsaanklaer met Baloyi se prokureur beraadslag.
Net voor Baloyi se saak aangehoor moes word, het die aanklaer vir Veldman ingelig dat sy saak na betreding verander is “omdat die polisie nie hulle werk gedoen het nie.”
Hiermee was Veldman glad nie gelukkig nie. Volgens hom kan die aanklaer nie bloot die polisie blameer nie. Veldman sê daar rus ook ‘n verpligting op ‘n aanklaer om aantekeninge te maak in die dossier van dit waarmee hulle [die aanklaers] nie tevrede is nie en wat die polisie verder moet ondersoek.
Veldman het die saak onder die aandag van die streek se hoofaanklaer, adv. André Weideman, gebring.
Weideman het Maandag telefonies aan die Zoutpansberger bevestig dat hy aantygings laat ondersoek het. Volgens hom het Baloyi se prokureur die Staat meegedeel dat sy kliënt bereid is om skuldig te pleit op betreding en nie huisbraak nie.
Intussen het die Staat Baloyi se aanbod om op ‘n klag van blote betreding skuldig te pleit, verwerp en hom wel aangekla van huisbraak. Hy het Maandag weer in die hof op Musina verskyn en sy saak is uitgestel tot 24 Mei.
“Ek dink dit is uiters teleurstellend om te weet dat ons as publiek uitgelewer is aan die kriminele in ons mooi land. Geen wonder dat ons mense die land verlaat vir ‘n beter lewe in ‘n ander land nie, want hier is die howe vir die kriminele se voordeel en nie vir ons as publiek nie. Enige iemand kan by jou huis inbreek en jou besteel, dan word hy vrygelaat vir betreding en nie vir inbraak nie. Dit is regtig skokkend,” sê Veldman.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
