

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 September 2005
MAKHADO - Verwaarloos en “vernederd” staan die borsbeeld van Louis Trichardt toegesluit in ‘n donker staalfort, met as enigste geselskap moontlike boorkewers wat die houtvoetstuk kan vernietig.
“Wat help dit dat die standbeeld van Louis Trichardt in die fort toegesluit is? Watter nut het dit vir enige iemand?”
Dit is vrae wat Dr. Willem Cruywagen, gewese administrateur van Transvaal vanaf 1979 tot 1988, gevra het na sy besoek aan Fort Hendrina in Erasmusstraat op Erfenisdag, 24 September. Dr. Cruywagen was deel van ‘n toergroep met ‘n belangstelling in geskiedenis en veral die Anglo-Boereoorlog.
Die toerleier van die groep, dr. Paul Greyling, het sy spyt uitgespreek dat die Makhado Munisipaliteit nie gereageer het op ‘n versoek om die fort vir die groep oop te sluit nie.
“Dit is verskriklik jammer dat Louis Trichardt se beeld weggesteek is in ‘n donker fort,” het dr. Greyling gesê. Hy het dit ook betreurenswaardig gevind dat die historiese skilderye van CR de Wet van Wyk, wat stigtingstonele van die dorp verbeeld, in ‘n stoorkamer weggesluit lê.
In April 2002 is die borsbeeld van Louis Trichardt onseremonieel verwyder vanuit sy staanplek in die ingangsportaal van die munisipaliteitsgebou en in Fort Hendrina gaan stoor. Die vyf reuse olieverfskilderye van CR de Wet van Wyk is in bobbelplastiek toegedraai en in die munisipale argief gestoor. Pogings van die skilder se kleinseun om die skilderye te siene te kry het al gevorder, maar nog nie gerealiseer nie.
In sy hoedanigheid as voorsitter van die Erfenisstigting het dr. Cruywagen Dinsdag gesê: “Ons probeer beelde en gedenktekens in situ (op die plek) bewaar. As dit nie kan gebeur nie, kyk ons of ons dit kan verplaas na ‘n ander plek in die omgewing; so nie, doen ons aansoek om dit in die Voortrekkermonument te bewaar.”
“Die vraag is, gaan julle afstand doen van Louis Trichardt se beeld en die pragtige skilderye?” het dr. Greyling gevra. Dr. Greyling sê dat die beelde van Danie Theron en Piet Joubert ook nou by Fort Skanskop by die Voortrekkermonument bewaar word.
“Die Voortrekkermuseum kry die meeste nasionale en oorsese besoekers. Die oorweging is nie konserwatief-polities nie, maar vanuit die erfenisbewaringsaspek,” sê dr. Greyling.
Dr. Cruywagen het gesê dat die saak van die beeld van Louis Trichardt by die Erfenisstigting geopper sal word nadat daar onder andere met mnr. Charles Leach ‘n bespreking in Pretoria gehou is. Mnr. Leach, plaaslike historikus en toergids van die Skermutselingsroete, het aangedui dat hy nouer met die Erfenisstigting wil saamwerk.
“My gevoel is dat geskiedenis net tot sy reg kom as dit in die regte omgewing, atmosfeer en situasie hanteer word. Moenie dink dat die beeld van Louis Trichardt ‘n plek gaan kry langs die beeld van Makhado of weer in die burgersentrum nie,” sê mnr. Charles Leach. Hy het sy spyt uitgespreek dat die Stadsraad nie die fort oopgesluit het vir die toergroep nie. Leach het gesê dat die tydsberekening dalk nie goed was nie en dat die Raad dalk seer was oor die verf van die beeld van Makhado, ‘n daad wat hy veroordeel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
