

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 January 2003
LOUIS TRICHARDT – Een van die streek se mees bekende en beminde inwoners, oom Eben Möller, gewaardeer vir sy wysheid en insig, is op 24 Januarie na 'n kort siekbed oorlede.
Oom Ebenhaezer Möller is op 14 Julie, 1925 in Louis Trichardt gebore en was feitlik sy hele lewe in die omgewing woonagtig. In 1951 is hy getroud met Kittie, wat hom sewe jaar gelede ontval het. Menige inwoner sal oom Eben onthou as die vriendelike slagter met sy spierwit baadjie aan. Hy het met verloop van jare verskillende slaghuise besit en bedryf, soos die Braeside slaghuis, die slaghuis in Checkers en die Ebenhaezer slaghuis. Die laaste vier jaar het hy Spar se slaghuis bedryf. Sy pa was kommandant Piet Möller na wie 'n straat in die nuwe uitbreiding vernoem was.
Oom Eben se wysheid, insig, liefde en kalmte het hy verkry as 'n vrug van sy verhouding met die Here.
"Net die afgelope vier jaar alleen, het hy die Bybel dertien keer deurgelees - vyf hoofstukke in die oggend en vyf in die namiddag," vertel sy dogter, mev. Nettie de Jongh. "Verder het hy gebid vir almal wat hy ken, asook vir elkeen van sy diere by die naam."
Bekend as 'n jintelman in alle opsigte, het oom Eben almal soos eie familie behandel. Hy het ook ander se belange altyd eerste gestel en nooit gepraat oor al die goeie dade wat hy vir ander gedoen het nie. Op sy 75ste verjaarsdagviering, wat in Johannesburg gehou is, het sy familie hom eenparig as die beste pa en oupa in die wêreld aangewys. Oom Eben was ook baie lief vir lees en tuinmaak.
Op 29 Desember verlede jaar het oom Eben in die Soutpansberg kliniek 'n kolostomie ondergaan het, nadat kanker gediagnoseer is. Die oorsaak van sy dood was nierversaking. Hy is oorlede in die ouderdom van 77 jaar en word oorleef deur sy drie kinders, Nettie, Pieter en Eben, asook vyf kleinkinders en een agterkleinkind. Hy is Maandag (27ste) vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Willem Boshoff.
Die familie het 'n spesiale woord van dank gerig aan dr. Smalle, die personeel van die Soutpansberg kliniek, dr. Philip Venter en die N.G. Soutpansberg-gemeente, ds. Willem Boshoff, Hannetjie Stadler en almal in die gemeenskap wat die gesin ondersteun het.

ADVERTISEMENT:
