ADVERTISEMENT:

 

Triegie-atlete skitter

- Date: 30 January 2015

Written by: Isabel Venter / Viewed: 9792

Search for a story:

Laerskool Louis Trichardt se atlete het verlede Vrydag, tydens die skool se jaarlikse bokkesportdag, hul staal gewys op hul tuisveld.

Die skool se gelukbringer, die Triegie Duiker, het ook sy buiging gemaak tydens die kleurvolle byeenkoms. Daar was hoog- en verspring, hekkies, naellope, diskusgooi en gewigstoot.

Oudergewoonte het die dag weer gesorg vir pret, lawwigheid, ‘n traan of twee en natuurlik ‘n handvol rekords. Veral die jongspan van die Graad RR- en R-kraal het gesorg vir kosbare oomblikke en menige ouer het breëbors gepronk van die trots.

Daar is die dag nege rekords opgestel, waarvan Franco Knoetze vier ingepalm het. Hy verbeter die vorige rekord vir seuns O/13 in die 100 m van 12:50 na 12:40. Ander rekords wat hy verbeter, met die ou rekord telkens in hakkies, was hoogspring 1.54 m (1.46), diskusgooi 36.72 (31.31) en gewigstoot 10.90 (10.44).

Mudodzwa Luvha verbeter die rekord vir verspring seuns O/13 van 5.00 m na 5.25 en ewenaar die rekord vir die 100 m in ‘n tyd van 12.50.

Twee van die skool se meisies het ook elkeen ‘n rekord opgestel. Fransuné Venter verbeter die rekord vir meisies O/11 gewigstoot van 08.75 m na 08.77, terwyl Modjadji Sefole die meisies O/12 hoogspringrekord verbeter van 1.31 m na 1.32.

Die bokkesportdag is elke jaar gewild by die skool en ‘n goeie opwarmer vir die streek- en interskolesport byeenkomste wat later die kwartaal aangebied sal word. 

 

ADVERTISEMENT