ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Moenie dat skielike dood jou afskrik om gereeld te oefen

 

“Moenie afgeskrik word om te oefen nie,” is die raad wat dr. Anton Stroebel gee, na aanleiding van ‘n tragiese gebeurtenis in Makhado (Louis Trichardt) waar ‘n 38-jarige vrou in ‘n gimnasium ‘n “skielike dood” gesterf het.

Stroebel het gaan kyk na die sterftesyfer weens skielike dood in die verskillende ouderdomsgroepe. Hy vertel van ‘n studie deur die American College of Sports Medicine wat oor 10 jaar gedoen is op skoolatlete van 126 skole, asook universiteitsatlete van 34 universiteite wat aan sportbyeenkomste deelgeneem het. Die term atlete word in die konteks van verskillende sportsoorte gebruik. “Dit is fiks, gesonde, jong atlete wat op die atletiekbaan of ander sportveld gesterf het met geen trauma by betrokke nie … Oor die 10-jaar periode was daar 7.47 sterftes per miljoen atlete by seuns, 1.33 sterftes by meisies, 14.5 per miljoen by mansstudente en 6.6 per miljoen by vrouestudente,” sê Stroebel. Die kans dat skielike dood met kinders of studente in die sportomgewing  gebeur, is dus maar op die meeste 15 sterftes per miljoen mense (of ‘n skrale 0.00000015%).

"Soos wat jou ouderdom opgaan, word jou kanse om skielik te sterf net soveel meer. As jy oor 40 gaan, is koronêre vatsiektes by verre die hoogste oorsaak (60%) van skielike dood. By jonger mense is dit dikwels mio-karditis of ontsteking in die hart, waarby die gewone griepvirus ‘n onderliggende oorsaak kan wees, kardio-miopatie (vergroting of verswakking van die hartspier) en geleidingstoornisse."

Die vraag is dan nou of ‘n mens bang moet wees vir oefen as gevolg van die voorkoms van skielike dood? “As jy nie oefen nie, is jou kanse om dood te gaan aan hartsiekte of diabetes of al die ander chroniese siektes wat jy kry omdat jy juis nie oefen nie, baie groter as wat dit is om te gaan oefen en dan skielik te sterf as gevolg van die oefening. Skielike dood gebeur in elk geval enige plek, enige tyd,” het Stroebel gesê. Hy beveel sterk aan dat ‘n mens vyf maal per week ‘n oefensessie inwerk wat ten minste 30 minute duur. “Die hoeveelheid kere wat jy per week oefen, is baie belangriker as hoe hard jy oefen. Die kwantiteit is belangriker as die kwaliteit of intensiteit. Mense het verskonings … maar jy kan in jou eie sitkamer ook ‘n matjie uitsit en oefeninge doen of 15 minute weg van die huis stap en 15 minute terugstap.  As ‘n mens fikser begin word, dan is daardie tipe oefeninge waar jy jou ‘core’ sterker maak, soos by CrossFit of ‘bootcamp’, goeie tipe oefeninge,”  het Stroebel gesê.

Plaaslike CrossFit-kenner, mnr. Felix Malan, het gesê dat hulle ter wille van die veiligheid van hulle lede ‘n twee weke gratis ‘grasie’ periode gee. “Lede kan dan die CrossFit-metodiek leer ken. Afrigters is persoonlik betrokke by nuwe lede en oefensessies word afgeskaal sodat lede se krag- en fiksheidsvlakke vasgestel kan word en die pas van vordering geskied volgens die individuele krag- en fiksheidsvlakke. Lede word op ‘n konstante basis gemonitor,” het Malan gesê. Om hierdie rede was Felix en Lee Malan teenwoordig tydens die skielike dood van die vrou en het alles in hul vermoë probeer om haar te red. “Die hartseer gebeure is op kamera vasgevang en een van die familielede het daarna kom kyk. Dit het gerusstelling gebring en baie vrae kon beantwoord word. Die gebeure het nie ‘n negatiewe effek op CrossFit Open Doors gehad nie. Mense wat gesien het hoe ons dit hanteer het, het trouens later nog nuwe mense saamgebring,” het Malan gesê.

Stroebel het gesê dat as iemand onseker voel om te begin oefen, dit ‘n goeie idee is om by die dokter ‘n draai te maak. “Ons sê altyd dat 40 ‘n goeie tyd is om by die dokter in te loer vir ‘n algemene ondersoek, maar as daar ‘n familiegeskiedenis van cholesterol is, moet selfs die kinders getoets word.” 

News - Date: 19 September 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: