ADVERTISEMENT:

 

Die 73-jarige oom James Strydom by sy leeg-gesteelde kluis. Buiten vir die juwele in sy kluis, het die “voornemende huiskopers” ook die juwele op en in die spieëlkaslaaie gesteel.

Voornemende “kopers” steel duisende uit huis

 

Daar is sekerlik niks erger as daardie absolute gevoel van ongeloof, magteloosheid en woede met die besef dat jy beroof is nie.

Die Strydom-egpaar van Louis Trichardt worstel steeds met hierdie gevoelens, nadat hulle verlede Donderdag (22ste) die slagoffers geword het van ‘n “netjies-geklede” sindikaat.

Die 73-jarige oom James het vertel dat daar omstreeks 14:00 die dag ‘n spierwit Mercedes voor hul woning in Burgerstraat gestop het. Drie netjies-geklede vroue het uitgeklim en navraag gedoen oor die Te Koop-bordjie voor die huis.

Volgens oom James was die vroue baie gretig om die huis te koop, maar wou eers die huis binnekant sien, voordat hulle die agente sou skakel. Met die moontlikheid van ‘n koper het oom James die huis vir die vroue gaan wys.

“Die een het gesê sy besit ‘n taxistaanplek en wil graag die huis koop om haar taxi by te stoor,” sê oom James.

Met groot ywer het die vrouens vertel hoe hulle die huis en die agterplaas gaan aanwend wanneer hulle die huis koop. In ‘n stadium het die een vrou opgemerk oom James is besig om aan ‘n Jeep te werk. Sy het dadelik oom James se aandag gevestig op haar Mercedes en met hom oor die kar begin praat. Saam-saam het sy en oom James na haar kar in die straat gestap.

“Die kar was dwars geparkeer, sodat ek nie die registrasienommer kon sien nie,” sê oom James.

Intussen het die tweede vrou vir oom James se eggenote, tannie Susan (72), in die agterplaas besig gehou met praatjies oor die “veranderinge” wat sy beplan om aan te bring by die huis.

Die derde vrou, met sulke roesbruin hare sê oom James, het op haar beurt gevra wat hul bediende se naam is. Kort daarna het die een met die roesbruin hare die bediende gaan vra of sy die egpaar se badkamer kan gebruik.

Ná sowat ‘n uur en 15 minute is die drie vrouens daar weg en het selfs telefoonnommers gelos waar hulle geskakel kan word. Oom James en tannie Susan het ook met hul dagtake aangegaan.

Groot was die egpaar se skok die aand omstreeks 22:00 toe tannie Susan haar juwele afhaal en in die houertjie op haar spieëlkas wou sit waarin al haar ander juwele is. Die houertjie was leeg!

“Ek het half beskuldigend vir James gevra wat hy met my juwele gemaak het,” sê tannie Susan. Onmiddellik, sê oom James, het hy besef iets is verkeerd en het dadelik aan die drie vroue gedink wat vroeër die dag daar was. Haastig het hulle hul laaie oopgeruk en die ergste het op hulle gewag – al hul duursame juwele, insluitend oom James se dasspeld en horlosie, was weg. “Hulle het geweet wat is waardevol en wat is nie. Die goedkoper juwele het hulle gelos,” sê oom James.

‘n Groter skok het vir oom James gewag toe hy na sy kluis se sleutels begin soek het. Dié was ook weg! Die kluis het ‘n boonste en onderste deel. In die boonste deel was daar nog juwele, insluitend ‘n erfstuk diamant hangertjie wat vir R25 000 gewaardeer was. Die Strydoms sou egter eers moes wag vir ‘n slotmaker om die kluis te kom oopsluit. Hy het ook nie goeie nuus gehad nie. “Die kluis was leër as leeg!” sê oom James.

Die egpaar sou na die tyd besef hoe hulle uitgevang is. Terwyl die een vrou vir tannie Susan in die agterplaas en die ander vrou in die straat vir oom James besig gehou het, het die vrou wat die “badkamer wou gebruik” rustig deur al hul laaie in hul kamer gekrap en buiten vir die juwele, ook op die kluissleutel afgekom.

Die Strydom beraam hulle skade op sowat R70 000. “Maar al betaal die versekering ons vandag R100 000 uit, kan dit steeds nie vervang wat ons verloor het nie,” sê tannie Susan.

Die saak is by die polisie aangemeld en, volgens oom James, meen die kaptein wat hul saak ondersoek dit is die werk van ‘n sindikaat. “Ek wil graag inwoners waarsku om nie vir hierdie slenter te val nie,” sê oom James. Hy noem dat sy dogter op Henneman meen die slenter is ‘n algemene verskynsel daar. Die diewe se modus operandi is egter bietjie anders. Hulle sal by ‘n huis stop met ‘n verkoopbordjie voor. Dan sal hulle die tuinhulp of huisbediende vra vir toegang tot die huis om gou iets na te gaan onder die voorwendsel dat hulle van die agentskap is wie se bordjie daar staan. Te laat kom die inwoners van die huis egter agter dat die “agente”, of in dié geval “kopers”, met vrye toegang hulle beroof het. Oom James se raad is om onder geen omstandighede mense in jou huis toe te laat as jy hulle nie self begelei nie. Hy skat die een vrou se ouderdom so in die middel twintigs en die ander twee, waarvan een blykbaar ver swanger is, in die veertigs. Al drie kon baie goeie Engels praat.

News - Date: 29 January 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: