ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt se jongste kits-miljoenêr? Mev. Sarah du Toit met die brief wat sy ontvang het waarin sy versoek word om haar voor te doen as die enigste erfgenaam van ‘n Londense miljoenêr.

Sarah toe nie dorp se nuutste miljoenêr nie

 

Louis Trichardt het weereens ‘n multi-miljoenêr opgelewer, bygesê as daar enige waarheid geheg kan word aan die brief wat mev. Sarah du Toit Dinsdagoggend ontvang het.

Sarah se man het die brief aan haar oorhandig ná ‘n vroeg-oggend besoek aan die poskantoor. Daar was geen twyfel vir wie die skrywe bestem was nie, want haar volle naam en van, asook persoonlike posadres, het in ‘n netjies handskrif op die koevert verskyn.

Sarah het die koevert oopgemaak en weereens was daar geen twyfel aan wie die brief binne-in geadresseer was nie, want daar het duidelik gestaan: To Ms Sarah du Toit. En kan iemand so gelukkig wees! Sy blyk te wees die gelukkige erfgenaam van ‘n boedel van digby die agt miljoen Britse Pond!

“I’m barrister Clip Harrison, the lawyer to late James du Toit, a national of your country (South Africa) and a gold merchant here in London. Here in after shall be referred to as my client. On 27th May 2011, my client and his wife were involved in a car accident. All occupants of the vehicle unfortunately lost their lives. Since then I have made several inquiries to your embassy to locate any of my clients extended relatives this has also proved unsuccesful,” begin die brief te lees onder ‘n briefhoof van “Harrisons Attorneys & Conveyancers” in London.

Barrister Harrison vertel van sy ontberinge om die naasbestaandes van sy kliënte op te spoor. Hy het self die internet gebruik om die van “Du Toit” te soek, maar sonder sukses. Hy het toe maar self Suid-Afrika toe gevlieg op soek na ‘n persoon met die van Du Toit. Hy het besoek afgelê by die Johannesburgse Sakekamer en het ook die Departement van Handel en Nywerheid gekontak, maar uiteindelik het die geluk hom getref. “With the information I got from the above office, I decided to write and post you this letter. I decided to send this letter by post considering the confidentially involved,” lees die brief.

Maar ai, êrens in die proses het die lyn tussen reg en verkeerd egter bietjie onduidelik geraak vir Barrister Harrison. In die brief noem hy dat hy weet Sarah is nie bloedfamilie van die arme dooie James nie. Hy raai haar aan om so spoedig moontlik te maak of sy familie van James is, anders gaan hulle die geld verloor aangesien die bank dit gaan opeis. Al wat hy van haar benodig is haar volle name, fisiese adres, haar ouderdom, beroep en posisie en ‘n telefoonnommer waar sy geskakel kan word. In ruil daarvoor sal hy die geld met haar deel – 30% vir hom en 70% vir Sarah. “All I require is your honest cooperations to enable us to see this deal throught (sic),” skryf Barrister Harrison.

“Dit was so tempting ... maar ek het besef dit is ‘n slenter. Wat vir my scary was, was die feit dat die persoon soveel van my persoonlike inligting gehad het,” sê Sarah. Slenters soos hierdie is volop op die internet via e-pos. Mense wat vir die slenter val en in korrespondensie met die booswigte tree, word dan vir maande aan ‘n lyntjie gehou. Telkens moet die slagoffer geld oorbetaal vir hierdie en hierdie dokumente, of om die geld los te kry en wanneer hulle agterkom hulle word bedrieg, is dit reeds te laat.

Wat egter vir Sarah omkant gevang het, was dat dit aan haar persoonlik in ‘n brief geadresseer was. Meer vreemd was dat die koevert geen posstempel opgehad het nie, net ‘n Suid-Afrikaanse posseël met haar adres daarop. Vir haar het dit beteken dat iemand plaaslik die brief moes gepos het, maar hoe kon die poskantoor dit in haar posbus plaas sonder dat die posseël deur die poskantoor gekanselleer is?

Die voorval is onder die aandag gebring van plaaslike posmeester mnr. Dries Rossouw. Hy is deur die Zoutpansberger gevra om te verduidelik hoe die brief in die posbus kon beland het. Vir hom was dit ‘n ernstige saak.

“Die kruks van die saak is dat ‘n posseëls wat nie deur die poskantoor gekanselleer is nie, nie in ‘n posbus mag beland nie,” het Rossouw gesê. Hy vermoed die brief is êrens in die Suid-Afrikaanse posdiens se sisteem ingesorteer, aangesien ‘n Suid-Afrikaanse posseël op die koevert geplak is. “Dit is egter moeilik om te bepaal waar dit gebeur het. Dit kan hier wees of in Polokwane,” het Rossouw gesê. Volgens hom kan dit ook gebeur dat iemand die brief van buite, indien die posbus nie meer behoorlik kan toesluit nie, ingedruk het. “Hoe dit ookal sy, dit is ‘n onreëlmatigheid en ek gaan definitief met my mense hieroor praat,” het Rossouw gesê.

Intussen word inwoners gemaan om nie te val vir hierdie “ongelooflike meevallers” nie en te werk op die beginsel van: As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.

News - Date: 06 March 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: