ADVERTISEMENT:

 

Renosters se toekoms in die weegskaal

 

Die debat rondom die bewaring van die renoster is nou nog belangriker as ooit tevore, met die 2016 Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) wat volgende jaar in Suid-Afrika aangebied word. 

Sowat twee weke gelede het renostereienaars, bewaringsorganisasies en ander belangrike rolspelers in die bedryf in Johannesburg bymekaar gekom om die Renosterhoring Handelsvoorstel Ondersoek Komitee toe te spreek. 

Hierdié komitee is deur die Departement van Omgewingsake op die been gebring met die doel om die voor- en nadele, sou die verkoop van renosterhorings gewettig word, te oorweeg. 'n Paneel van hooggeplaaste kenners in terme van die wet, bewaring en die bedryf is gevra om die voorstel te oorweeg.

Kenners sê daar is voor- en nadele wat die moratorium op die verkoop van renosterhorings inhou. Indien die moratorium gelig word, wat sal gebeur? Sal die nadele dalk die voordele oorskry? Hierdie is van die punte wat die WOVSA uitgelig het tydens 'n onlangse voorlegging aan die Departement van Omgewingsake:

Voordele Nadele
*  Strenger beheer oor die verkoop van renosterhorings.
*  Die onwettige jag op renosters sal stopgesit word, en sodoende kan die spesie gered word van uitwissing.
*  Wildboere sal vrylik kan boer met renosters, en 'n positiewe bydrae kan lewer tot die land se ekonomie én natuurbewaring.
*  Die sekuriteitsrisiko waaronder boere gebuk gaan sal drasties verminder.

*  Daar word gevrees dat die wettige handel deur sindikate en onwettige jagters ondermyn kan word, wat die verbruikersaanvraag na renosterhoring verder sal op stoot.

*  Daar is ook vrese dat sindikate hul onwettige renosterhorings kan verkoop deur wettige instansies te infiltreer.
*  Lae pryse sal dalk nie onwettige verkopers afskrik nie.

 

Dit is geen geheim dat Minister Edna Molewa beperkte handel wil toelaat nie. Die paneel het aanvanklik bestaan uit meer pro-handel adviseurs, maar is verander om meer gebalanseerd te wees ná verskeie bewaringsorganisasies ingegryp het. 

Die Wildlewe- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika (WOVSA) was een van die sprekers wat ten sterkste uitgevaar het teen die voorstel. Hulle meen dat om die handel te wettig rampspoedige gevolge sal hê. Die organisasie is bang dieselfde sal gebeur toe CITES gedurende 1999 en 2008 eenmalig toestemming gegee het vir die verkoop van Suid-Afrika se opgehoopte ivoor. Volgens die WOVSA was die verkoping veronderstel om die prys van ivoor te sny en te keer dat olifante onwettig gejag word, maar volgens hulle word olifante nou nog meer as ooit gedood vir hul ivoor.

Die WOVSA voel dat die departement eerder hul fokus moet plaas op die gemeenskappe wat geraak word deur renosterstropery as om te gaan deur die duur proses om die renosterhoring handel te probeer wettig. Die situasie, sê hulle, sal nie omgekeer word deur 'n vinnige rand te maak uit die verkoop van renosterhorings nie; daar moet gekyk word na ander langtermyn oplossings.

“Suid-Afrika het nog nie 'n volwasse en verantwoordelike demokrasie nie, daarom kan die implementering van die horinghandelstelsel nie met redelike sukses uitgevoer word nie," sê die WOVSA.

 

News - Date: 09 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: