ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Iain Purdon lê namens die gemeente van die St Peter's Kerk 'n verklaring af by konst. Muravha van die Makhado SAPS.

"Bedagsame" diewe ontsien nie eers kerk nie

 

Dit is reeds laakbare gedrag om te steel, maar daar is seker nie iets erger as om van ‘n kerk te steel nie.

Helaas, dit is wat met die St. Peter’s Kerk hier in Louis Trichardt gebeur het die afgelope langnaweek.

Alles was nog in orde gewees ná Sondag se diens. Dinsdagmiddag het ‘n gemeentelid, wat tafels by die kerkgebou in Bredastraat afgelaai het, agterkom daar is ingebreek by die kerk – een van die groot vensters was uitgeslaan.

Dit blyk dat die diewe net belanggestel het in die teekoppies van die kerk; die kerk se klanksisteem (wat heelwat meer werd is) was ongeskonde, asook die kerk se stoorkamer waar die meeste van die kerk se besittings en bates toegesluit word gedurende die week.

“Hoe kan iemand ‘n Huis van God besteel,” het ‘n polisieman opgemerk wat na die toneel uitgestuur is vir die ondersoek.

Behalwe vir die teegerei en stukkende venster, het die diewe groot bedagsaamheid aan die dag gelê. ‘n Gloeilamp, naby die uitgebreekte venster, is netjies uitgedraai en eenkant in die tuin neergesit. ‘n Stuk sementklip, wat gebruik is om die venster uit te gooi, is ook eenkant in die tuin gebêre. Al waarin die diewe verder gekrap het, was die kerkkombuis - die preekstoel en galery is nie aangeraak nie.

Die St Peter’s Kerk was egter nie die enigste organisasie wat deurgeloop het die afgelope naweek nie. Die Louis Trichardt Gimnastiekklub het ook dieselfde tyd onder vandalistiese diewe deurgeloop. Ongelukkig vir die klub het hulle diewe amper als weggedra -  tot die gimnaste se vloermusiek en ‘n gedeelte van hulle springmat!

Daar word vermoed dat die diewe vanaf die dorp se rugbyveld se kant deur die heining gekom het en die klub se sydeur oopgeforseer het.

Die diewe het ook die klub se nuwe klanksisteem, yskassie, ketel en pas-afbetaalde klubleotards gesteel. Die skade is amper onberekenbaar en ‘n geweldige terugslag vir die klub.

Volgens een van die afrigters, mev. Elsabé Stewart, is die elektroniese ware die minste van hul bekommernis. Dit sal die klub tussen R77 000 tot R150 000 uit die sak jaag om die oefenklere en mat te vervang. ‘n Groot gedeelte van die mat is in die middel uitgesny, en daar moet nog vasgestel word of net dié gedeelte of die hele mat vervang moet word.

Albei gevalle is by die Makhado Polisie aangemeld vir ondersoek, maar teen druktyd het die ondersoeke nog voortgeduur en was daar nog geen arrestasies gemaak nie.

(Die Zoutpansberger het die afgelope paar weke gereeld gehoor van inbrake by wonings en besighede. Statistiek in dié verband is egter moeilik bekombaar en die koerant versoek  inwoners om ons te laat weet van enige inbrake, plus 'n saaknommer, wat sedert begin Maart plaasgevind het. Inligting kan per e-pos gestuur word na [email protected] of skakel Andries of Isabel by tel. 015 516 4997).

 

News - Date: 30 April 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: