ADVERTISEMENT:

 

Johan Oelofse (42) en Miempie du Toit. Foto verskaf.

Vir niks doodgeskiet

 

Met net ‘n rewolwer het Johan Oelofse (42) van Louis Trichardt teen ‘n geweldige oormag die liefde van sy lewe en haar twee kinders se lewens beskerm. Vir sy heldedaad het hy egter die hoogste prys betaal.

“My held, mis jou so baie. Lief jou vir altyd.” Dit was die hartseer woorde van Johan se vriendin, Miempie du Toit.

‘n Gewapende bende het Sondagaand, uit die bloute, losgebrand op die huis wat Oelofse, Miempie, en haar twee kinders op die Vondelingpad gedeel het. Die barbaarse voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, en ‘n storm ontlok op sosiale media soos die berig algaande versprei is. Wat die aanval nog meer sinneloos maak, is die feit dat die aanvallers op die vlug geslaan het nadat hulle Miempie se huis flenters geskiet het. Hulle het nie die huis binnegegaan nie, en ook nie iets gesteel nie. “Ons het nie geweet wat aangaan nie ... dit het soos oorlog geklink,” het buurvrou Meisie Malan gesê.

Miempie het Dinsdag die afskuwelike voorval herleef toe sy aan die Zoutpansberger ‘n onderhoud toegestaan het. Haar onmeetbare smart was duidelik op haar gesig uitgeëts.

Die eerste skoot is ongeveer 21:30 afgevuur. Miempie se 16-jarige dogter, Imge, het pas na haar kamer gegaan om te slaap. Johan en Miempie het nog televisie gekyk. Die res van die huis was donker gewees.

Hulle het opgespring toe hulle die skote en Imge se gille gehoor het. Die eerste skote is regdeur haar kamervenster, maar het wonderbaarlik bo-oor haar getrek waar sy in haar bed gelê het.

Te midde van 'n oordonderende koeëlreën kon Johan en Miempie daarin slaag om vir Imge en klein Wimpie (11) na veiligheid te bring in die badkamer. “...ek het net heeltyd by die kinders gebly ... die kinders moes nie uitkom nie...” het Miempie vertel terwyl die trane in die hoeke van haar oë begin vorm.

Die aanvallers het intussen om die huis begin beweeg en bly skiet. “...hulle het net heeltyd geskiet deur die venster ... dit was nes oorlog ... hulle het net aanhou skiet,” fluister Miempie.

Johan het daarin geslaag om ‘n rewolwer in die hande te kry. Miempie vertel hy het by ‘n venster gestaan, uitgekyk en teruggeskiet en dan weer na die ander kant geloop en weer geskiet. Hy het deurentyd vir haar geskreeu om by Imge en Wimpie te bly.

In ‘n stadium, vertel Miempie, het sy gehoor hoe skreeu die aanvallers vir Johan “dat hulle ons almal gaan doodmaak.”

“Toe skreeu hy vir hulle terug hulle kan maar probeer, die polisie is op pad en hulle gaan nie verby hom kom nie,” vertel Miempie.

Steeds het die koeëls op hulle bly neerreën. Negentien vensters is uitgeskiet; die gordyne is aan flarde.

Miempie se emosie oorval haar terwyl sy verder vertel. “... hulle het net bly skiet ... en skiet ... en skiet...”

Met net die televisie wat flou lig gemaak het, kon Miempie daarin slaag om ‘n selfoon in die hande te kry en ‘n vriend, Marius Botha, te skakel en te vra om te help. Marius het die polisie langs die pad gekry en hulle die pad gewys na Miempie se huis.

Dit was te laat.

“Hulle het net geskiet, en toe hoor ek hoe val Johan ... en toe ek om die hoek kyk, sien ek hy lê daar ... en toe is dit doodstil,” wurg Miempie die woorde uit, terwyl die trane nou vrylik oor haar wange loop. “Toe is daar niks meer nie ... toe het Marius en die ander mense daar aangekom, maar dit was te laat ... hulle het net aanhou skiet ... ek kon niks vir hom doen nie...”

Johan het net ses rondtes in sy rewolwer gehad, en hy het vir Miempie gesê hy sou nie kon aanhou skiet nie, maar net wanneer dit die nodigste was. “Alles was seker oor in vyf minute, maar dit was net skote, en skote, en ek het gevoel dit gaan nooit ophou nie. En toe dit eers stil raak, toe voel dit so lank voor iemand daar opdaag.”

Oorweldig neem dit Miempie ‘n lang ruk om die trane af te vee, voordat sy kan begin vertel van haar en Johan. Hy was kys haar gewees op skool – op Vivo waar hulle albei destyds in die laerskool was.

Hulle paadjies het weer onlangs gekruis, en Johan het by Miempie ingetrek op haar kleinhoewe waar sy al vir die afgelope twee jaar woon. Johan het vir ‘n plaaslike konstruksiemaatskappy gewerk, en as hy by die huis was, het hy Miempie en die kinders bederf deur klein takies vir hulle te doen.

“Johan was ‘n sagte mens, hy het ‘n sagte geaardheid gehad en ‘n groot hart. Ek weet nie hoe gaan ons sonder hom klaarkom nie,” het Miempie gesê.

Johan word oorleef deur twee susters, Karin en Sarie, broer Attie, en Miempie en haar kinders. Daar sal eerskomende Saterdag ‘n roudiens vir Johan gehou word vanuit die Agapé Kerk in Louis Trichardt om 10:00.

Intussen ontvang Miempie en haar kinders berading. Sy sê sy sal nooit weer kan teruggaan na haar huis toe ná wat met hulle gebeur het nie. Dit is ook nie die eerste keer wat Miempie die slagoffer is van ‘n plaasaanval nie.

Haar pa is in 2005 deur gewapende rowers op sy plaas in Alldays vermoor in die ouderdom van 76. Haar ma het as gevolg van die aanval ‘n beroerte aanval gekry, wat haar verlam gelaat het.

 

News - Date: 02 November 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: