ADVERTISEMENT:

 

Die intensiteit en die hoeveelheid van die hael wat in ‘n kort tydperk boere se oeste weggeslaan het, kan in hierdie foto gesien word. Foto verskaf. 

Platgeslaan!

 

Platgeslaan … letterlik en geestelik. Dit is die situasie waarin baie boere in die Levubu-omgewing hulle tans bevind, ná nog verwoestende haelstorms die streek die afgelope week getref het.

Boere in die streek is die afgelope paar maande verskeie nekslae toegedien. Alhoewel redelike goeie reënneerslae plek-plek voorgekom het, het die erge droogtetoestand die streek (soos in baie ander dele in die land) steeds in ‘n wurggreep.

Hierdie droogtetoestand en onlangse versengende hitte het gunstige veldbrandtoestande geskep. Dit het daartoe gelei dat wegholveldbrande vroeër die maand amok gemaak het in die streek. In die Waterpoort-omgewing is meer as 4 000 hektaar veld in weiding deur vlamme verswelg. Kort daarna het ‘n wegholbrand miljoene rande se skade aan plantasies by Ratombo (Levubu) veroorsaak. Dit is opgevolg deur ‘n verwoestende haelstorm wat voorverlede Saterdag die Levubu-omgewing getref het. Aanvanklik het boere die ergste gevrees ten opsigte van oesskade en –verliese weens die eerste haelstorm. Dit het egter later geblyk dat die skade nie so verwoestend was nie, alhoewel baie boere se oeste vir die uitvoermark gediskwalifiseer is. In daardie stadium het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr Stephen Hoffman, gesê dat baie van hierdie vrugte (hoofsaaklik makadamias, piesangs en avokado’s) steeds geskik sal wees vir die plaaslike mark.

“Die situasie het drasties verander,” het Hoffman ná verlede Woensdag se haelstorm gesê. Die hael, sê hy, het meer boerderye geraak met baie hoër intensiteit. “Veral die Beaufort-omgewing het geweldige skade opgedoen. Dit het Klein Australië en Appelfontein ook weer getref,” het Hoffman Dinsdag gesê. Hy sê dat veral makadamias kwaai deurgeloop en tot 80% van die neute in sommige boorde afgeslaan is. Piesangs en avokado’s is ook swaar getref. Alhoewel hael soms in die streek voorkom, is die insidensie en intensiteit waarmee dit vanjaar voorkom, ongekend.

Hennie Bonnema en sy seuns Hendrik en Pieter (Bonnema Boerdery) het veral skade op makadamias en avokado’s gehad, so ook Fanus en Gertien Viviers op makadamias en lietsjies, Fanie Havinga op makadamias en Vhavenda Boerdery (Lordans) op makadamias. Kallie van Aswegen het skade op sy kwekeryplante gehad en ander skade het voorgekom op jong boompies, koejawels en piesangs by Hannes en Yvonne Vorster en Dries Pretorius. Op Klein Australië het Herman de Jager, Toppie Topham en Pieter en Sarie Coetzee skade op skade gehad. Sutton Boerdery (voorheen GT Geldenhuys Trust) het groot skade op piesangs, makadamias en lietsjies gehad, terwyl Alan en Gill Whyte van Springfield groot skade op makadamias en avokado’s gehad het. “Hierdie skade behels ‘n verlies van tussen 50% en 80% van die boere se totale opbrengs,” het Hoffman gesê. Hy het gesê genoemde partye is van die groter produsente, vir wie die finansiële impak groot is. Die kleiner produsente is ook swaar getref.

Volgens Hoffman is dit in hierdie stadium moeilik om die skade in geldwaarde te bepaal, maar dit beloop miljoene rande. “Die vrugte wat nie afgeslaan is nie, is waarskynlik so ernstig beskadig dat dit nie meer bruikbaar sal wees nie,” het Hoffman gesê. Dit gesê, meen Hoffman dat die skade die plaaslike verbruiker nie noemenswaardig sal raak nie. “Dit is hoofsaaklik uitvoerverliese, met die uitsondering van piesangs waarvan daar, as gevolg van Mosambiek-produksie, gereeld oorskotte is,” het Hoffman gesê.

Die hael het blykbaar net suid van die berg in stroke voorgekom. “Ek is nie bewus van ernstige haelskade noord van die berg nie. Daar was wel wydverspreide hael, maar nie sulke groot en swaar neerslae nie. Dit het goed gereën noord van die berg, veral in die Musina-omgewing. Alldays en Vivo is egter nog baie droog,” het Hoffman gesê.

Oor wat nog moontlike haelstorms betref, het Hoffman gesê: “Ons kan maar net hoop dat dit nou voldoende afgekoel het en die hael sal wegbly. Ek sal nie hierdie jaar voorspellings waag vir die res van die seisoen nie. Die weer wys nog geen patroon nie en dit hinder my baie. Die vreeslike uiterste temperature en gepaardgaande hael is nie goeie aanduidings vir ‘n seisoen met goeie periodieke neerslae nie. Ons mag dalk van tyd tot tyd swaar neerslae kry, maar die belofte van ‘n goeie reënseisoen is nog nie op die horison nie,” het Hoffman gesê.

Die insidensie van haelstorms het talle boere onkant gevang. Omdat die Soutpansberg nie bekend is vir gereelde hael nie, het meeste boere nie versekering vir haelskade nie. “Levubu se haeldekking is relatief nuut, aangesien daar nooit regtig ‘n vraag daarna was nie. Dit is egter nou beskikbaar, maar boere is nog skrikkerig en het daarom nog nie begin gebruik maak van hierdie produk nie,” het Ralda van Wyk, plaaslike korttermynmakelaar vir PSG Konsult, gesê. Sy het bygevoeg dat boere in die Hoedspruit-omgewing, wat ook swaar getref is deur haelstorms, hulle in dieselfde situasie bevind deurdat hulle nie dekking uitgeneem het nie. Van Wyk sê dat die eise wat hulle tans hanteer hoofsaaklik strukturele of skade aan voertuie is. Dit is ook nie baie goedkoop om jou oes teen hael te verseker nie. Van Wyk het genoem dat op hul PSG-platform by een versekeraar dit die boer R55 000 plus ‘n 10% bybetaling per seisoen sal kos om R1 miljoen se produk, soos avokado’s, te verseker.

News - Date: 30 November 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Die onweerswolke bokant Levubu verlede Woensdag. Kort daarna het ‘n hewige haelstorm vir ‘n tweede keer in een week uitgesak. Dit het daartoe gelei dat boere tot 80% van hul oeste verloor het. Foto verskaf.

Piesangbome is aan flarde geslaan tydens verlede Woensdag se massiewe haelstorm in Levubu en op sommige makadamiaplase is tot 80% van boere se neut-oeste afgeslaan. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: