ADVERTISEMENT:

 

Pasop vir wegholbrande gedurende droë maande

 

Augustus is hier en tradisioneel tree daar altyd dan ‘n brandverbod in werking.

Die risiko vir wegholbrande is vanaf Augustus tot Oktober uiters hoog en brandbane moes eintlik al reeds gesny gewees het. Die Makhado Brandweerstasie het vandeesweek ‘n beroep gedoen op grondeienaars om dié belangrike voorsorgmaatreël nou in plek te kry, terwyl daar nog tyd is. Tradisioneel sal die brandverbod geld tot die laaste dag van Oktober, maar hierdie jaar sal dit in plek bly tot en met die volgende goeie reënval.

Die rede waarom die brandverbod ingestel word, is om die veiligheid van mense, vee, wild en infrastruktuur teen wegholbrande te verseker, veral in ‘n tyd wat water nie altyd beskikbaar is wanneer dit nodig is nie. Daar moet veral teen brand gewaak word in areas waar baie plantasies en vrugteboorde is, aangesien die verlies van hierdie bome ‘n groot impak kan hê op die land se ekonomie.

Enigiemand wat die verbod verontagsaam, kan vir hulleself swaar boetes op die hals haal en kan selfs aanspreeklik gehou word vir die brandskade op eiendom wat weens die brand skade kry.

Grondeienaars wat ná die sperdatum nog voorbrande wil maak, sal by die brandweerstasie se bevelvoerder, mnr. Jack Ramalatso, spesiale toestemming moet verkry. Alternatiewelik kan grondeienaars lang gras sny, skoffel, skraap of vee daarop laat wei. Die brand van vullisgate of tuinvullis sal nie geduld word nie.

Die brandweerstasie se raad is om so spoedig moontlik die nodige voorsorg te tref en om altyd paraat te wees. Grondeienaars word ook aangeraai om in te skakel by hul plaaslike brandvoorkomingsassosiasie of alternatiewelik te verseker dat hul plaaswagstruktuur ‘n plan van aksie het indien ‘n veldbrand sou ontstaan. Werkers kan ook weer herinner word aan vuurveiligheid en kan opgelei word om ‘n brand effektief te bestry.

Enigiemand wat die brand verbod oortree, kan verkla word by Ramalatso. Hy kan by die stasie gekontak word by tel. 015 516 0554.

 

 

News - Date: 28 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: