ADVERTISEMENT:

 

Die algehele wenners van die Hanglip 54-toernooi, afgeneem saam met die Soutpansberg Gholfklub se klubkaptein, Lappies Labuschagne. Van links na regs staan Lappies, Leon Smit, Johan Fouché en André Stipec. Bruce du Toit, wat die derdeplek deel met André, was afwesig tydens die neem van die foto.

Pretorianer wen Hanglip

 

Louis Trichardt se plaaslike gholfspelers moes hierdie jaar tevrede wees met 'n algehele tweedeplek in die Hanglip 54-toernooi en dié spogtrofee het sy staanplek vir die volgende jaar verder suid moes vind.

Leon Smit, ‘n Pretorianer, het vanjaar dié gesogte trofee opgeraap tydens die 22ste Hanglip Gholftoernooi van die Soutpansberg Gholfklub wat vanaf Donderdag (9de) tot Saterdag (11de) op Louis Trichardt beslis is. Hy het tydens die drie dae se kompetisies 115 individuele Stablefordpunte aangeteken om 'n eersteplek te verseker.

Soos in die verlede het die toernooi weer ‘n vol veld spelers gelok van regoor die land. Bykans die helfte van die veld het bestaan uit besoekers van onder andere Pretoria, Klerksdorp en Lydenburg.

Spelers neem elke dag in spanverband aan die kompetisie deel, maar elkeen se individuele Stableford-telling word gebruik om 'n algehele wenner ná die derde dag te bepaal.

Vanjaar het die weer en al die ander faktore mooi saamgespeel en spelers van oraloor was vol lof vir die wyse waarop die toernooi georganiseer is. Die klub se president, mnr. Arie Steyn, was ook in sy noppies met die groei wat die toernooi getoon het. Hy sê daar was vanjaar meer besoekers wat deelgeneem het, wat wys dat die toernooi gewild is.

Wat die individuele uitslae betref, was Johan Fouché van Louis Trichardt algeheel tweede met 109 punte. Bruce du Toit en André Stipec deel die derdeplek met ‘n totaal van 108 punte.

Wat die daaglikse kompetisies betref, word die eerste dag se spel gewen deur Leon Smit met 39 punte, gevolg deur André Stipec tweede met 38 punte en Johan Coetzer en Tinus Pretorius wat die derdeplek deel met 37 punte.

Dag twee se spel word gewen deur Johan Fouché met 41 punte, gevolg deur Bruce du Toit tweede met 40 punte en Llewellyn Prenzler derde met 39 punte.

Saterdag, die derde dag, se spel is gewen deur Marnus Erasmus met 46 punte (uittel). Tweede was Herman Adendorff met 46 punte, ook op ‘n uittel, en Anrich Leeb en Bruce du Toit gesamentlik in die derdeplek met 45 punte.

Die voledige uitslae van al drie dae se spel was teen druktyd nie beskikbaar nie, aangesien daar die naweek by die klub se klubhuis ingebreek is en die rekenaar waarop die uitslae gestoor was, onder meer gesteel is.

Sport - Date: 16 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: