ADVERTISEMENT:

 

Generiese foto.

Bedrywige krieketnaweek nadat T20-liga weer begin

 

Die Louis Trichardt Krieketklub het die afgelope naweek hulle T20-seisoen vir 2024 voortgesit met die speel van drie wedstryde op die Louis Trichardt Ovaal.

In die eerste wedstryd van die naweek het die Warriors Saterdag teen RCI te staan gekom. Die Warriors het eerste gaan kolf en 171 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hulle toegelate 20 beurte aangeteken. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Hasan Diwan, wat 54 lopies vanaf slegs 25 balle gemoker het in ‘n kolfbeurt wat nege viere en twee sesse ingesluit het, met goeie ondersteuning deur Hussain Diwan wat 56 lopies (ses viere en een ses) aangeteken het, en Ashraf Khota wat 20 lopies geslaan het. Vir RCI was Jabir Abhuji die mees ekonomiese bouler met ‘n boulontleding van twee paaltjies vir die verlies van 19 lopies in vier beurte (2/19/4). Spanmaat Vimal Shah het 2/25/4 en Saad Zubair het 2/26/4 laat kantel.

RCI kon in hulle kolfbeurt net nie aan die gang kom nie en die span is uitgeboul vir 80 lopies in die 17de beurt, wat aan die Warriors ‘n 91-lopie oorwinning besorg. RCI se top kolwers (wat dubbelsyfers kon behaal) was Ikram Kamboli (15), Afran Junaid (22) en Hussain Patel (13). Vir die Warriors kon boulers Ashraf Khota 3/16/4 en Dilawar 2/11/3 en Brendan Bouwer 2/7/2 neem. Johan Jacobs, Jacques Burger en Nico van der Westhuizen het elk een paaltjie laat kantel.

Sondag is twee wedstryd beslis, met Limpopo Melkery wat eerste teen die Roaring Lions (Hoërskool Louis Trichardt) te staan gekom het. Die Roaring Lions het eerste op die veld gestap om te kolf en kon 162 lopies aanteken, voordat hulle in 18.5 beurte uitgeboul is. Dubbelsyfersbydraes met die kolf is gelewer deur Craig Viljoen (19), Brendan Bruce (24), Brian Vermeulen (65 vanaf 30 balle, wat ingesluit het ses viere en vyf sesse), Derrick Barnard (10) en Francois Nel (10). Vir Limpopo het drie boulers elk drie paaltjies geneem, naamlik AJ Fourie (3/27/3,5), Leon Olwage (3/32/4) en Naweed Jolly (3/35/4). Joubert Fourie het een paaltjie ingeoes.

Limpopo het in hulle kolfbeurt goed begin, met dubbelsyfer bydraes deur AJ Fourie (57 van 38 balle af, wat ingesluit het ses viere en twee sesse) en Abid Patel (32), maar ná hulle vertrek het die kolfbeurt ietwat in duie gestort, met slegs TG Fourie (11) en Joubert Fourie (11) wat dubbelsyfers kon aanteken. Hulle eindtelling van 132/8 in hulle toegelate 20 beurte het aan die Roaring Lions ‘n nege-lopie oorwinning gee. Vir die hoërskool het boulers Craig Viljoen 2/16/4, Niel Louw 2/12/2 en Brendan Bruce 2/20/3geneem, terwyl Thabang Maselesa 1/37/3 kon vat.

Die Killers en NTT Vikings het mekaar hierna die stryd aangesê. Die Killers het ingegaan om eerste te kolf en ‘n skaflike 196/6 in hulle 20 beurte aangeteken, danksy Zander Volgraaff wat 95 lopies vanaf slegs 50 balle geslaan het in ‘n beurt wat 11 viere en vier sesse gesien het. Hy is goed ondersteun deur AC Geldenhuys, wat 53 lopies van 32 balle af geslaan het (vier viere en vier sesse), met AJ Jansen van Rensburg wat 12 lopies kon aanteken. Vir die NTT Vikings het bouler Craig Viljoen 2/31/4 geneem, terwyl Morné Olwage, Gysbert Guillaume, Waldo van Deventer en Nardus Barnard elk een paaltjie kon plattrek.

Die NTT Vikings se kolwers het dapper die teiken gejaag, met dubbelsyferbydraes deur Gysbert Guillaume (15), Craig Viljoen (58 van 26 balle af, wat ingesluit het agt viere en drie sesse), Nardus Barnard (19), Johan Pretorius (21) en Marius Meintjies (11). Die Vikings kon egter slegs 147/6 aanteken in hulle kolfbeurt, wat aan die Killers ‘n 49-lopie oorwinning besorg het. Vir die Killers het bouler Zander Vollgraaff 2/37/4 en Paulo Piorek 2/38/4 geneem. AC Geldenhuys en Frikkie van Niekerk het elk een paaltjie ingeoes.

Wat die volgende ronde wedstryde betref, kom RCI en die Strikers op Saterdag, 2 Maart om 14:00 teen mekaar te staan. Sondag, 3 Maart, om 10:00, pak die Roaring Lions die Warriors en om 14:00 kom Limpopo teen die NTT Vikings te staan. Al die wedstryde vind op die Louis Trichardt Ovaal plaas en toeskouers is welkom.

 

Sport - Date: 29 February 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: