ADVERTISEMENT:

 

Triegies se Chrizette Odendaal (regs), afgeneem tydens die 90 meter hekkies vir meisies o.15, een van drie items wat sy tydens die Interhoër gewen het. Foto: Karla van Zyl.

Triegies se trofeëkas vol ná Interhoër

 

Ná bykans twee dekades pronk die Interhoër-geestrofee weer in Hoërskool Louis Trichardt se trofeëkas, maar die Triegies het nie net op die pawiljoen uitgeblink nie. Die Triegie-atlete het tydens vanjaar se Interhoër op Phalaborwa altesaam 23 eerste plekke ingepalm, drie rekords opgestel en met 11 van die dag se top trofeë weggestap.

Sewe skole het aan vanjaar se Interhoër deelgeneem, naamlik Hoërskole Frans du Toit (gasheer), Louis Trichardt, PHS, Merensky, Eric Louw, Tom Naudé en Northern Academy. Reeds vroegoggend het die wedywering begin met die aankoms van die atlete en hul skool se dirigente se opkoms op die baan, en reeds vroeg het Triegies se sangspan en dirigente hul stempel afgedruk.

Die Triegie-atlete wat die dag eerste plekke behaal het (en ook rekords opgestel het) het ingesluit Mafunwa Malivusa (hoogspring en driesprong seuns o.16, met ‘n rekord in die driesprong met ‘n afstand van 12.45 m), Andrea Badenhorst (gewigstoot en spiesgooi vir meisies o.16 met ‘n rekord in die spiesgooi met ‘n afstand van 40,99 m), die seuns o.16-aflosspan (met ‘n 400 m rekord van 45.25 sekondes), Kailey Botes (100 m hekkies meisies o.16), Bernard Ramarope (verspring seuns o.16), Mijanke Venter (diskus meisies o.16), Ahmed Samie (200 m en 110 m hekkies seuns o.16), Unarine Netshitangani (200 m seuns o.17), Vhangani Tshivhandekano (400 m hekkies seuns o.17), Marna de Swardt (hoogspring meisies o.17), Mukhethwa Ramahala (verspring en driesprong seuns o.17) en Thabang Masalesa (110 m hekkies en driesprong seuns o.19). Twee Triegie-atlete het drie eerste plekke behaal. Chrizette Odendaal was eerste in die 200 m, 90 m hekkies en 300 m hekkies vir meisies o.15, terwyl Tshepo Legodi eerste was in die 100 m, 200 m en verspring vir seuns o.19. Buiten vir die eerste plekke het die Triegie-atlete ook altesaam 37 tweede en derde plekke behaal.

Triegies se goeie vertoning op die baan het aan hulle 11 van die dag se top trofeë besorg. Andrea Badenhorst het die trofee vir Beste Senior Meisies Baanatleet ontvang, terwyl Ahmed Samie weggestap het met die trofeë vir Beste Senior Veldatleet, Beste Seuns Enkel Prestasie en Senior Victor Ludorum. Chrizette Odendaal het op haar beurt die trofeë vir Beste Junior Baanatleet, beste prestasie vir ʼn enkel item en Junior Victrix Ludorum ontvang. Saam met al hierdie toekennings het Triegies ook die uiters gesogte Persentasie-trofee ingepalm, asook die trofeë vir Beste Opkoms, Beste Dirigente-span en ook die algehele Geestrofee. Hoërskool Louis Trichardt het algeheel derde geëindig die dag, met Merensky in die tweede plek en PHS eerste.

Emosies het hoog geloop onder Hoërskool Louis Trichardt se toeskouers, leerlinge en atlete direk ná afloop van die prysuitdeling. Onder hulle was Triegie-hoof mnr. Theo Muller, wat gesukkel het om sy trots weg te steek. So ook het die leerlinge en atlete uit hul nate gebars van trots.

“Dit was ‘n vreeslike warm dag onder die Phalaborwa son, maar dit het nie ons atlete en sangers gestop nie. Ek is baie trots op ons skool en dit maak my hart bly om ‘n Triegie te wees. Dit was ‘n awesome ervaring…” het spankaptein Stefanie Venter gesê.

“Dit was nog altyd ‘n begeerte van my om Interhoër te wen, maar ek sou myself nooit kon indink om dit op so ‘n suksesvolle manier te doen nie. Ons het as ‘n span deelgeneem en as ‘n span daardie beker gelig. Die dag het ‘n bittersoet einde vir my gehad, aangesien dit my laaste Interhoër gaan wees … Ek sal daardie dag onthou tot in lengte van dae en ek sal altyd ‘n trotse Triegie wees,” het hoofdirigent Lusani Sadiki gesê.

“Ná vyf jaar by Hoërskool Louis Trichardt kan nie een van die vorige jare vergelyk met vanjaar se Interhoër nie. My hart is seer met die wete dat hierdie my laaste jaar gaan wees. Na al my prestasies en feesvierings, is daar ook baie hartseer en trane, maar ek sal altyd dankbaar wees vir die ondersteuning wat ek ontvang het vanaf my onderwysers, afrigters, spanmaats, familie en vriende … Ek sal vir altyd ‘n trotse Triegie bly, op die veld en van die veld af…” het spankaptein Thabang gesê.

“Interhoër was ‘n onvergeetlike ervaring en ek voel geëerd om deel te kon wees van Hoërskool Louis Trichardt se Interhoër-span en nog beter, om die spankaptein te wees. Alhoewel ons so hier en daar ‘n probleempie opgetel het, was die dag 'n uiterse sukses. Veral met die aflos. Ek kry hoendervleis om net weer daaraan te dink. Elke laaste bietjie krag wat jy oor gehad het na die lang en warm dag, gee jy jou alles, terwyl jy daardie 100 m blitsvinnig hardloop. Triegies se sangspan wat deur die stilte breek soos wat jy die wenstreep kruis! Dis werklik 'n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Die blydskap wat in die lug gehang het toe ons met trots die Prestasietrofee huis toe kon neem. Alhoewel dit my laaste Interhoër was, is ek meer gelukkig as hartseer omdat ek so 'n wonderlike skool, span en afrigters aan my kant gehad het. 'n Trotse Triegie sal ek altyd bly,” het spankaptein Lee-Ann Botma gesê.

 

Sport - Date: 01 March 2024

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

Email:

ADVERTISEMENT: