ADVERTISEMENT:

 

Bekende historikus en oud-onderwyser oorlede.

Bekende historikus en oud-onderwyser oorlede

 

‘n Bekende historikus en voormalige onderwyser in Limpopo, mnr. Sarel Lee (87), is Sondagoggend in Pretoria oorlede.

Hy is op 15 Junie 1926 op die plaas Waterkloof in die destydse Ellisras gebore en het aan die Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Hy verwerf ‘n BA-graad en Hoër Onderwysdiploma aan die PU vir CHO en Potchefstroomse Onderwyskollege en begin sy onderwysloopbaan in 1949 aan die Messina Middelbare Skool. Met die totstandkoming van die Hoërskool Eric Louw het hy daar begin skoolhou en het veral as geskiedenisonderwyser diep spore getrap. Hy het ook daar die bynaam Pappa Lee gekry, en tot met sy dood het baie oud-leerlinge hom nog so genoem.

Op Messina het hy ook begin om historiese tablo’s en toneelstukke te skryf, wat deur leerlinge en personeel onder sy spelleiding opgevoer is. Hy het hom ook as sportafrigter onderskei en sy korfbalspanne het destyds ‘n groot bedreiging vir die groter skole ingehou. Hy was ook ‘n medestigter van die dameskorfbalklub op Messina en was vir verskeie jare die afrigter van die span. Verder het hy ook vir ‘n tydperk as bestuurder van die Verre Noordspan (vroue) gedien en was ook vir ‘n tydperk ‘n Springbokkeurder.

In Januarie 1969 het hy ‘n senior pos by die Hoërskool Pietersburg aanvaar, met geskiedenis in beroepsvoorligting as sy verantwoordelikheid. Hy is later bevorder tot Departementshoof Opvoedkundige leiding.

As onderwyser was hy aktief betrokke by verskeie historiese verenigings. Hy was ‘n dryfkrag in die opknapping en restourasie van die Pietersburgse Konsentrasiekampkerkhof en die Pionierskerkhof op Ellisras, waar verskeie van sy voorsate begrawe is. Hy was ‘n kundige oor die vroeë pioniers van Limpopo en het saam met ander liefhebbers van geskiedenis moeite gedoen om die grafte van baie van hulle op te spoor. Hy het ook heelwat navorsing gedoen oor die konflik tussen die Boere en Engelse in die Pietersburg- en Soutpansberggebied tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Later het hy intensiewe genealogiese navorsing gedoen oor die Lee-familie.  

Oom Sarel was ‘n meelewende lidmaat van die Gereformeerde Kerk en het in verskeie ampte in gemeentes op Messina en Pietersburg gedien. Hy het in 1986 afgetree en hy en sy vrou, Emmie, het hulle in Gholfpark in die destydse Naboomspruit gevestig. Hulle het later na die Caritas aftree-oord in Bela-Bela getrek en nadat hulle as gevolg van verswakte gesondheid meer aandag nodig gehad het, het hulle in 2012 na Pretoria verhuis. Met sy afsterwe was hulle inwoners van die Wondervilla-oord in Wonderboom.

Oom Sarel word oorleef deur sy vrou Emmie, met wie hy 61 jaar getroud was, sy kinders Magriet, Wikus, Tiaan en Basie, drie skoondogters, agt kleinkinders en een agterkleinkind. Sy begrafnis vind Vrydag, 11 April, in Pretoria plaas. Die teraardebestelling sal om 10:00 in die Heatherdale-begraafplaas begin en die verrigtinge sal deur een van sy kleinseuns, ds. Jan-Louis Lee van die Gereformeerde Kerk Bothaville, gelei word. ‘n Troosdiens sal om 12:00 in die Gereformeerde Kerk Wonderboom-Suid volg volg, waartydens ‘n ander kleinseun, ds. Hannes Lee van die Gereformeerde Kerk Ladybrand, as prediker sal optree.

News - Date: 11 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: