ADVERTISEMENT:

 

'n Huis in die onderste gedeelte van die dorp wat vir meer as R1m gewaardeer is. Dit gaan 'n eiendomsbelasting van meer as R500 meebring, wat tesame met die hoë elektrisiteitstariewe, die sak van die belastingbetaler gaan skud.

Waardasie duimsuiery?

 

“Die nuwe waardasierol lyk vir ons na ‘n duimsuiery.”

Dit is die mening van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) ná die bekendmaking van die 2014 tot 2018 munisipale waardasierol.

SBBV voorsitter mev. Inga Gilfillan se eie eiendomwaardasie is met R1m verhoog. “In ‘n ander buurt is ‘n inwoner se eiendomwaardasie verdubbel, terwyl sy buurman s’n presies dieselfde gebly het. Ons raai eienaars aan om ‘n onafhanklike waardeerder te kry en daardie waardasie saam met die beswaarvorm by die munisipaliteit in te handig. Daarsonder bly die munisipaliteit by hul belaglike waardasies ter wille van die geld wat moet inkom na die munisipale koffers,” het Gilfillan gesê.

Inwoners het tot 31 Maart om beswaar te maak teen die nuwe waardasie van hul eiendomme, waarvolgens hulle belasting vir die volgende vier jaar of meer gaan betaal . Inwoners kan hul waardasies by die munisipaliteit uitvind of by die SBBV bestuurder, mnr. Phillip Olivier.

Professionele waardeerder en prokureur dr. Suwil Rudolph het gesê dat die nuwe waardasierol veel te wense oorlaat en raai ook huiseienaars aan om hulself so gou moontlik te vergewis van die waardasies en beswaar te maak indien nodig.

Rudolph het gesê dat die waardasierol nie reflekteer wat in die mark aangaan nie. “Jy gaan trek die verkope van vergelykbare huise deur ‘n soektog vir ‘n bepaalde woonbuurt in die dorp te doen. Die data is op die Internet teen ‘n fooi beskikbaar. Jy kyk na verkooppryse in die omgewing,” het Rudolph gesê. So byvoorbeeld kan ‘n huis nie vir R3.6m gewaardeer word in ‘n omgewing waar huise vir minder as R1m verkoop word nie. ‘n Huis in die onderdorp kan ook nie oor dieselfde kam geskeer word as ‘n huis in die bo-dorp nie.

“By die waardasie van huise is ligging die eerste belangrike faktor ... Tweedens word gekyk na die eiendom self. Wat is die grootte van die huis, die aard van die verbeterings en die kwaliteit daarvan? Die ouderdom van die huis speel ook ‘n rol. Wanneer jy pryse in die omgewing vergelyk, vergelyk jy soort met soort, soos ‘n woonstel met ‘n woonstel en ‘n huis met ‘n huis,” het Rudolph gesê. Hy het bygevoeg dat dit lyk of die waardasies van sekere woonbuurte, ingesluit die ou dorp,  te hoog is.

Landmeter Schalk Corbett van Geoland het ‘n bietjie vergelykend gekyk na die 2008 tot 2014 waardasierol en die nuwe een. Hy het sowat dertig erwe rondom Burgerstraat 69 geneem en sy bevindings op die SBBV blad geplaas. “Die waardes is gemiddeld met meer as 70% op. Hier en daar is daar eiendomme wat onverklaarbaar minder werd is (as op die vorige rol) en een eiendom is 230% op. As ‘n mens die waardasies op die twee rolle vergelyk, lyk dit baie snaaks,” het Corbett gesê.

Corbett sê dat die plase se waardasies nog meer vreemd is. “Ek het net ‘n paar vergelyk, met baie wat 200% op is en baie waarvan die waarde 50% tot 100% minder is.”

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, het gesê dat die SDLU kennis neem van die nuwe waardasierol. Hoffman het gesê dat hy hom nie wil uitspreek oor die paar gruwelike desimale foute op die rol nie. “Die amptelike standpunt van die SDLU is dat ons bereid is om te betaal vir dienste aan ons gelewer en daardie dienste moet van so ‘n standaard wees soos vooraf met ons ooreengekom en volgens ‘n tarief wat vooraf met ons ooreengekom is,” het Hoffman gesê en bygevoeg dat ‘n boer sy eie gras langs die pad sny, sy eie vullis verwyder, sy eie water voorsien en ‘n geweldige bedrag aan elektrisiteitsvoorsiening spandeer.

News - Date: 14 March 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
“By die waardasie van huise is ligging die eerste belangrike faktor. Jy kan nie ‘n huis in die onderdorp oor dieselfde kam skeer as ‘n huis in die bo-dorp nie," het professionele waardeerder dr. Suwil Rudolph het gesê. Hierdie huis in die nuwe uitbreiding is vir R2m gewaardeer, terwyl 'n huis in Wolmaransstraat onder Rissikstraat vir R2.6m gewaardeer is.
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: