ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

AfriForum sit handjie by om betaling te kry

 

Dat dit dikwels vir kontrakteurs ‘n risiko is om met munisipaliteite besigheid te doen, is ‘n feit.

Volgens ‘n nasionale tesourieverslag het munisipaliteite op 30 Junie 2013 slegs 73 % van hul rekenings binne 30 dae vereffen, teenoor 85% ‘n jaar tevore. Limpopo munisipaliteite het 54% krediteure getoon wat vir meer as 90 dae uitstaande is, die derde hoogste ná die Vrystaat (66%) en Mpumalanga (59%). Plaaslik het die vorige president  van die Soutpansberg Sakekamer, me. Liezl Strauss,  gesê dat sommige van haar 100 lede nie meer met die munisipaliteit besigheid gaan doen nie, as gevolg van laatbetalings (www.mg.co.za). Die sloerdery met die voltooiing van Andersonstraat en ander strate, wat inwoners van Makhado (Louis Trichardt) hoofbrekens besorg het, was in baie gevalle te wyte aan laat betalings.

Wanneer dit by watervoorsiening aan die dorp kom, is die tydige betaling van kontrakteurs wat aan die infrastruktuur werk, net so belangrik. Dit is trouens noodsaaklik vir vordering in die rigting van ‘n ononderbroke watertoevoer aan ‘n dorp wat swaar ly onder ongereelde watervoorsiening. Laasgenoemde is tans ‘n prioriteit vir AfriForum en sodoende het hulle ook betrokke geraak om druk uit te oefen vir die betaling van kontrakteurs.

Mnr. Mike Sambo van Solidarity Developers het op 10 Maart gesê dat hy waardering daarvoor het dat die plaaslike AfriForumvoorsitter, mnr. Wally Schultz, tussenbeide getree het toe die Vhembe Distriksmunisipaliteit hulle nie betaal het nie. Hulle is die kontrakteurs wat verantwoordelik is daarvoor om die 10 boorgate van die dorp wat water aan Tshikota en die ouer deel van die dorp voorsien  aan die pomp te kry. Schultz het gesê dat Sambo hom geskakel het en gesê het dat hy nog nie betaling vir die vorige fase van sy werk gekry het nie en dat hy gaan uitstap. Ná druk op Vhembe van AfriForum se kant is die kontrakteur dieselfde dag betaal.

“Die vorige geval het amper ‘n jaar geneem. Elektrisiën Paul Otto het baie lank gewag vir sy geld. Ek moes Vhembe boelie om te betaal. Dit was tydens 'n opvolgvergadering in Pretoria met Vhembe en hulle regspan. Ons het gedreig dat AfriForum Otto sou betaal en die Vhembe amptenare dagvaar vir die geld,” het Schultz gesê.

Otto was verantwoordelik vir die elektrifisering van die vier nuwe boorgate in die dorp. Hulle het in Desember 2012 begin en omstreeks Februarie verlede jaar klaargemaak. Die kontrakteurs wat elk een boorgat gekry het, was PM Brothers en Bald Mike, met Bukuta wat die kontrak vir twee boorgate gekry het. Die elektrifisering het onder die Makhado Munisipaliteit geval, maar hulle het later ‘n sessie onderteken dat Vhembe vir Otto direk sou betaal. Me. Rosetta Otto, wat by haar man se besigheid, P.D. Otto Elektries, betrokke is, het bevestig dat alle uitstaande betalings uiteindelik ontvang is. “PM Brothers het baie goed en vinnig betaal. Bald Mike Civils  het ‘n sessie by Vhembe geteken en ons is laat betaal. Bukuta het ons meer as R200 000 geskuld, wat baie laat betaal is,” het me. Otto gesê.

News - Date: 28 March 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: