ADVERTISEMENT:

 

Johan (links) en Leon van Dijkhorst afgeneem tydens een van die bergfietswedrenne waaraan hulle as 'n span deelgeneem het.

Twee broers vertrek op epiese tog deur SA

 

Twee broers vertrek Saterdag (30ste) met hul fietse vanaf Musina op ‘n letterlike kruistog deur die land. Hulle poog om met hulle Suiderkruis-projek geld in te samel vir die beveiliging van plaasboere, die bestryding van renosterstropery en ook vir Bybelverspreiding.

Johan van Dijkhorst van Makhado (Louis Trichardt) en sy broer, Leon, se fietsrit van ongeveer 4 200 km is in die vorm van ‘n kruis wat van noord na suid strek en dan weer van oos na wes. Hulle eerste skof begin Saterdagoggend vroeg op die plaas Oewer Vlakte, noordwes van Musina. Vandaar pak hulle ‘n 156 km skof oor die Soutpansberg aan tot by Makhado (Louis Trichardt).

Na ‘n rusdag Sondag val hulle Maandag weer in die pad en ry tot in Mokopane. Die volgende skof neem hulle tot by Bela-Bela en op Woensdag, 4 Desember, hoop hulle om net suid van Magaliesburg te oornag.

Die twee fietsryers se roete neem hulle verby dorpe soos Parys, Kroonstad, Ventersburg en Brandfort. Op 7 Desember beoog hulle om in Bloemfontein te wees, waar hulle dan die volgende Sondag rus.

Hulle roete neem hulle dan deur die Karoo, verby plekke soos Phillipolis, Colesberg en Beaufort-Wes. Die twee broers volg dan die pad na Mosselbaai toe en vandaar na Heidelberg en Bredasdorp. Hier besoek hulle die mees suidelike punt van Afrika voordat hulle die tog noord-oos aanpak.

Johan en Leon laai die fietse dan op en vertrek na Bethlehem in die Vrystaat, onderweg na Kosibaai. Hier begin die tweede  been van die epiese tog; hierdie keer gaan hulle egter wes. Die roete neem hulle oor Louwsburg en Vryheid tot by Glencoe. Hulle ry deur Ladysmith tot by Harrismith, waar hulle Kersdag deurbring. Vandaar is dit weer na Bethlehem, Winburg, Senekal tot by Soutpan. Hierna kom die Noord-Kaap aan die beurt en die roete neem hulle deur Kimberley, Griekwastad, Groblershoop en Upington. Die skof na Keimoes sluit ‘n 21 km roeisessie in, waarna hulle verder fietsry tot by Pofadder en Springbok.

Rondom 7 Januarie hoop die twee avonturiers om by Port Nolloth weg te trek vir die laaste skof na Alexanderbaai, hul eindbestemming.

Volgens Leon sal 80% van die fondse wat hulle insamel gaan na organisasies wat veiligheid op plase bevorder. “Mense is onbewus van die enormiteit van die probleem – dit verander lewens, nie net vir die boere en hul families nie, maar ook vir die plaaswerkers. Die aanvalle word gewoonlik nie volledig deur die media gedek nie,” sê hy.

Die oorblywende fondse sal verdeel word tussen organisasies wat renosterstropery beveg en vir Bybelverspreiding.

Die Van Dijkhorst-broers se tog kan op hul webtuiste gevolg word. Die adres is www.suiderkruisprojek.co.za.

News - Date: 29 November 2013

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: