ADVERTISEMENT:

 

Om aan ‘n nasionale sterkman-kompetisie deel te neem moet jy ure in die gym spandeer. Hier is Leon hard besig om te oefen vir sy deelname eerskomende Saterdag aan die tweede kwalifiserende rondte van die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie in Middelburg. Foto verskaf.

Kragman Leon gaan spiere bult teen land se bestes

 

‘n Soutpansberger sal eerskomende Saterdag, 29 Maart, die verhoog deel met van die land se sterkste sterkmanne tydens die tweede kwalifiserende rondte van die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie.

Hierdie eer het die 40-jarige Leon le Roux, ‘n sersant-majoor verbonde aan LMB Makhado en voorsitter van die basis se gym, te beurt geval.

“Ek is baie senuweeagtig oor Saterdag, maar almal wat weet sê dit gaan baie lekker wees,” het Leon Maandag aan die Zoutpansberger gesê.

Le Roux is tans 11de gekeur op die nasionale sterkman-ranglys in die minus 105 kg-klas. “Dit is vir die klein outjies soos ek,” skerts hy. Hy sê hy het rede om senuweeagtig te wees, aangesien hy Saterdag in ‘n ope-klas in Middelburg gaan deelneem. “So, enige iemand kan inskryf en die kompetisie gaan definitief straf wees,” sê Leon. Van die land se sterkmanne wie se name reeds op die deelnemerslys verskyn sluit in Granite van Gladiators-faam, voormalige Suid-Afrikaanse sterkman Ettiene Smit, en die huidige draer van die SA Sterkman-titel, Tristen O’Brien. Lesers kan gerus hierdie manne se name gaan Google om te sien teen watter kompetisie Leon te staan gaan kom.

Leon het reeds op skool ‘n liefde vir liggaamsbou ontwikkel, maar het nooit aan sterkman-kompetisies deelgeneem nie. “Dit het alles in 2009 begin tydens ‘n sterkman-kompetisie by Hoërskool Louis Trichardt,” sê Leon. Dit was juis hierdie kompetisie wat sy belangstelling in dié tipe kompetisies geprikkel het. In 2011 het hy te hore gekom van die sterkman-kompetisie wat aangebied is tydens die Innibergfees as een van die nasionale kwalifiserende rondtes. “Ek het die voorsitter van SASU (Suid-Afrikaanse Sterkman-unie) geskakel om meer uit te vind oor die kompetisie en watter items daar is. Ek het toe maar besluit om deel te neem en sedertdien is ek op die SASU-ranglys,” sê Leon.

Meer onlangs het Leon lekker radio blootstelling gekry met Jacaranda FM se Love Tour-besoek aan Makhado (Louis Trichardt) as deel van Rian van Heerden se Complimentary Breakfast Show. Hoe hy daar beland het, is ook ‘n interessante storie. “Iemand het uit Mookgophong geskakel en gevra daar moet iets vir die Maljan [van die Complimentary Breakfast Show] gereël word om te doen. Vir een of ander rede het hulle my nommer vir Maljan gegee. Ek het voorgestel dat ek hom ‘n regte weermag fiksheidstoets gee om te voltooi,” sê Leon.

Weens omstandighede het Maljan se weermag fiksheidstoets nie gerealiseer nie. “Maljan sê toe vir my dat synde ek hom ge-drop het, soek hulle iemand wat hulle in ‘n halfuur kon breek met strawwe oefening. Ek het toe maar ingestem,” sê Leon.

Luisteraars het die oggend van 20 Februarie vanjaar vir bykans ‘n halfuur geluister hoe Rowena Viljoen van die Warriors-groep in Magoebaskloof vir Leon rondjaag. Met nog net 30 sekondes oor van die halfuur het Leon maar gesê: “Ek kan nie meer nie korporaal!” Hieroor lag hy lekker.

Kort na sy “ekskursie” op radio het Leon ‘n e-pos ontvang vanaf Frans Pretorius, voorsitter van SASU, om te kom deelneem aan die sterkman-uitdunne eerskomende Saterdag. Later vanjaar, tydens die Randse Paasskou, sal daar ‘n volgende uitdunrondte wees. Ook hierheen is Leon reeds genooi. Die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie sal in Junie vanjaar beslis word.

Deelname aan hierdie kompetisies kom nie verniet nie. “Ek wil graag vir Paul’s Body Shop op die basis, wat ‘n groot gedeelte van my koste geborg het om die naweek deel te neem, bedank. Baie dankie ook aan my broer Marius en suster Mariska vir julle bydraes. ‘n Groot dankie gaan aan my vrou, Yvette, en familie vir julle konstante ondersteuning,” sê Leon.

Indien enige iemand meer wil weet van Leon se deelname of op een of ander manier ‘n bydrae kan lewer tot sy verdere deelname vanjaar, kan hulle hom skakel by tel. 082 493 3189.

Sport - Date: 31 March 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: