ADVERTISEMENT:

 

78. Daisy kort inspirasie en raak weg (Deel 1)

 

Maandagoggend. Bernard werk in Kaapstad. Die plaasbestuur­der het al vroegoggend sy opdragte uit­gedeel en alles loop soos klokwerk by die lande. Die werkspanne by die gastehuis is op hulle tone na die bou-inspeksie deur die argitek oor die naweek.

Dis ‘n lieflike herfsoggend in die Bosveld, met beloftes van ‘n perfekte dag.
“Te perfek,” dink Daisy terwyl sy haar koffie vroegoggend in die tuin sit en drink. Die hoen­ders pik om haar rond en Elvis (haar gunsteling hoenderhaan), smeek soos gewoonlik vir ‘n stukkie beskuit.

“Vandag is weer een van dáái dae,” sug Daisy. “Ek verlang na Plore wat op universiteit is. Ek verlang na my ma wat in haar graf is. Ek verlang na die stad. Ek verlang na baie mense wat ek nog nie ken nie. En dan praat hulle van die Sóndag blues?” Daisy sit lank en beskou die sonsopkoms.

“Ledigheid mag nou wel die duiwel se oor­kussing wees, maar vandag het ek inspirasie nodig. En my inspirasie gaan kom van niksdoen. Nie die niksdoen van iewers sit en nonsens praat in ‘n teetuin op die dorp nie, nie die niksdoen van kosprogramme kyk op BBC Lifestyle nie - geheel en al niksdoen.” Vir ‘n rukkie sit Daisy en pluis uit wat sy regtig op hier­die Maandag wil doen. Uiteindelik voel Daisy beter – sy het ‘n plan.

Twintig minute later is Daisy gedress en gepress – sy het haar beste Out of Africa-uit­rusting aan, ‘n pith helmet op haar kop en ‘n lang wit serp om haar nek. Sy laai ‘n koelsak vol verversings op die sitplek langs haar. So vars soos ‘n Daisy klim sy in haar Land Rover, draai die volume van die Mozart CD kliphard en draai op die teerpad in Alldays se rigting. Sy het niemand ingesluit by haar planne nie.

Dis nog voor brêkfis dat Daisy by At se Gat stop. Nie dat dit haar pla nie – sy ken die mense. En alhoewel hulle uitgewas lyk asof hulle skofte tot vroegoggend aangehou het, ontvang hulle vir Daisy gul. Hulle terg haar ligweg toe sy ‘n bottel sjampanje en lemoensap bestel voordat sy die minste belangstelling in ‘n spyskaart toon.

“Een van dáárdie dae?” vra ‘n stem agter haar. Daisy sug toe sy omdraai om te kyk wie met haar praat. Vandag van alle dae is sy nie lus vir vreemdelinge nie. Maar haar nuuskierigheid neem dadelik oor toe sy die eienaar van die stem aanskou. Vir ‘n hele rukkie is Daisy nie seker of sy met ‘n man of ‘n vrou te doene het nie; tot sy opstaan en haar hand vir Daisy uitsteek om haarself voor te stel.

“Ek is Lolla. En ja, ek het ‘n cleavage in plaas van borshare.” Die vrou lag dat haar buuste bewe. “Maar ek is ‘n volbloed boer en ek sit en wag dat die koöperasie oopmaak. Kan ek vir jou lekker sterk koffie koop?”

“Mmm. Nee dankie, Lolla. Ek is Daisy en vandag wil ek liewers borrels in my lewe hê. Wil jy nie ook ‘n glas lemoensap en bubbly drink nie?” nooi sy gul.

Lolla trek ‘n stoel uit langs Daisy en maak haar tuis. Op die oog af lyk sy soos enige boer in die omgewing – kakieklere, Cats, ‘n boere-tan op haar bene waar die kortbroek ophou en die sokkies begin. Haar hare is kort gesny, haar hande wys hande-arbeid en vasvat. Geen teken van fieterjasies nie. Daisy glimlag. Haar soort mens – anders as almal hier rond.

“Ja tog, gooi maar. Maandae is nie altyd die beste dag nie – nie op ‘n plaas of in die stad nie. ‘n Bietjie tyd af sal nie kwaad doen nie – mis­kien vind ek inspirasie vir die week wat voorlê. Van volgende week af begin oestyd, dan is daar nie tyd vir asemhaal nie. Wat maak ‘n stadsgirl soos jy op ‘n plek soos hierdie op ‘n Maandag?”

Daisy bars in trane uit. “Hoe weet jy ek is van die stad af?” vra sy snikkend.
“Hei, ou girl,” gooi Lolla wal. “Ek wil jou nie ontstel nie! Maar as jy moet weet – jy kan dit onmoontlik nie wegsteek nie. Kyk hoe is jy aangetrek – soos ‘n aktrise wat iewers uit ‘n filmstudio ontsnap het. En watter plaaslike boeremeisie drink sjampanje op ‘n Maandag­oggend? Maar meer as enigiets anders – jou Land Rover hier buite is silwerskoon.

“Kom nou, kom nou. Tjeers vir jou. En los die trane – dit impress my glad nie. Buitendien kom die meeste van ons van iewers anders af – dis nie elkeen wat ‘n paar geslagte lank al hier rondhang nie. Wag tot ek jou vertel hoe ek hier beland het – dan kan jy maar ‘n paar trane wegpink.”
Van pure verbasing hou Daisy op met huil.

“Nou maar toe dan, Lolla. Tjeers. Vertel my jou storie, dan vertel ek jou myne.”

(Word vervolg)

Daisy - Date: 28 May 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: