ADVERTISEMENT:

 

132. Daisy is bang sy word ook vervelig (2)

 

Die volgende oggend word Daisy moeilik wakker. Sy kan net een oog op ‘n slag oopmaakaltwee gelyk voel na ‘n onmoontlikheid. Sy druk haar kop onder haar sagte verekussing in en probeer voorgee daar is nie iets soos werklikheid nie. Maar haar tong sit vasgelak teen haar verhemelte. Sy is dors. Baie dors.

Toe Bernard tienuur aanmeld vir brêkfis, bring hy twee liter Cream Soda saam. Hy waag dit nie te naby aan Daisy nie; buitendien kan hy sien sy is nie in staat daartoe om spek en worsies se braai-aroma te hanteer nie. Sy sit op die bank soos ‘n olike hoender; toegedraai in ‘n kombers met net Sunshine se nat snoet wat uitsteek.

“Kan ek vir jou ook ontbyt maak, Daise? Iets wat stil en gesond is en goed vir ... eee ... wel, hoofpyn. Of moet ek net vir jou ‘n paar Panados saam met die groen mamba gee?”
Bernard se poging tot humor gaan heeltemal verby Daisy.

“Net pille, dankie. Was jy ernstig oor die Holland-storie gisteraand, Bernard? Of is hierdie net ‘n baie onsmaaklike manier om jou opwinding oor ‘n gesin uit te druk?” Daisy glo nie daaraan om doekies om te draai nie.

“Hoe klink vrugteslaai en jogurt vir jou, my mooiste? Dan gesels ons rustig?”
“Flippen hel, Bernard. Dis juis oor rustigheid en verveling en die vooruitsig van ‘n voorstedelike lewe met 2.5 kinders wat ek nou so uitgestres is! En al wat ek wou weet is of ons ons nageslag hier op die plaas of in die stad gaan grootmaak. Nou trek ons HOLLAND toe...”
Bernard herken ‘n geveg voordat die bloed begin vloei.

“As jy nou super nice wil wees, my Daisy, dan laat jy my toe om rustig brêkfis te maak en te eet. Dan belowe ek jou ‘n verrassing wat jou dadelik beter sal laat voel. Ek belowe.”
Daisy sug en sit aan by die tafel wat Bernard gedek het. Sy sluk ‘n groot glas Cream Soda en die hoofpynpille af en gooi dadelik nog koeldrank in.

“Sal ek darem nog ‘n klein slapie kan inpas voordat ek gaan bad en mooimaak?” flikflooi sy. “Ek sal dit nie maak as ek nie eers nog slaap inkry nie, maak nou nie saak hóé opwindend die verrassing is nie...”

“Nou toe. Jy het twee ure. Dan moet jy gedress en gepress wees vir ‘n vreeslike mooi plek. En pak sommer ‘n oornagtassie vir ons. O ja, en daar is gaste wat saamgaan.”

By die aanloopbaan is Daisy aangenaam verras om vir Ousus en Jacobus ook daar te kry. Uitgevat in hulle Sondagbeste. Jacobus het selfs kouse en skoene aan.

In die verbygaan sê Bernard net vir Daisy: “Nie ‘n woord oor al ons nuus nie, Daise. Dis die hele idee van hierdie trippie. Ons het heeldag tyd om daaroor te gesels...”

Ousus en Jacobus is vreeslik beïndruk toe die gehuurde swart Mercedes hulle aflaai by die Saxon Hotel. Bernard loer vir Daisy met blink oë en sy giggel skelm. “Netso, my liefste man! Ek onthou maar alte goed hoe ek soos klei in jou hande was nadat jy my by die Saxon ge-wine en ge-dine het vir ‘n hele naweek...” fluister sy vir Bernard.

“Ek het vir jou en Ousus ‘n hele middag se bederf bespreek in die spa, my mooiste. Met jou gunsteling Franse vonkel. Gaan oorboord. Ek en Jacobus het genoeg om ons besig te hou in die sigaarkamer en die wynkelder. Ons kry julle vir cocktails later, ek weet julle sal iets vind om aan te trek ook...” Die mans lag gelukkig terwyl hulle inboek.

Vir Ousus en Jacobus word dit ‘n ondervin­ding om vir altyd te koester. “Ja, ek hou mos nie eintlik daarvan om van die plaas af te gaan nie. Maar wragtig, vir hierdie plek bly ek sommer ‘n week weg!” komplimenteer Jacobus. Ousus lyk pragtig in ‘n swart nommertjie wat Bernard vir haar laat aflewer het by die spa.

“My allahél, Daise. Hoe op aarde het die man geweet watter nommer klere ek dra en waarvan ek sal hou? Ek voel soos ‘n koningin.” Ousus het trane in haar oë.

Toe hulle later sit en wag vir hulle hoofge­regte maak Bernard keelskoon.
“Ons het so ‘n bietjie nuus en dan het ons nog bietjie nuus,” begin hy. “Dit lyk vir my Daisy het uiteindelik tot haar sinne gekom en besluit om vreeslik vervelig te word. Ons gaan met ‘n gesin begin, en ons wou hê dat julle eerste weet. Die probleem is net dat ons nie die rugbyspannetjie op die plaas gaan grootmaak nie. Ook nie eers hier in Johannesburg nie.

“Maar ek wil graag hê dat julle moet kom help kyk waar ons die jongelinge gaan groei.
Julle moet asseblief saamkom en kom help soek vir ‘n huis, want ons gaan trek.
Holland toe.”

Daisy - Date: 21 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: