ADVERTISEMENT:

 

130. Daisy en haar sonskynkind (episode 3)

 

Toe Daisy Ousus se stem hoor, begin sy huil.

“Ons is albei siek, Ousus. En ek weet dis heel bisar, maar vandag voel ek soos ‘n weeskind. Ek mis ons ma. Ek het van haar hoendersop gekook, maar Bernard en ek is altwee in die bed. Hy is vrot van die koors en ek voel so siek dat ek ook nie uit die bed uit kan opstaan nie. Wat gaan van ons word, hier is niemand wat na ons kan kyk nie...?” en Daisy snik al hoe harder.

“Toemaar, Kleinsus, Florence Nightingale is op pad. Hou net uit – ek is nou daar. En ek bring sommer vir Plore ook saam. Miskien kan hy iets meer konstruktiefs met sy universiteitsvakansie doen as om met meisies te Facebook.” Altyd die praktiese juffrou met ‘n plan.

Ousus het skaars haar handsak in die kombuis neergesit, toe begin dinge gebeur. Sy bel die huisdokter en stuur vir Plore dorp toe om ‘n voorskrif vir Bernard te gaan haal. In dieselfde asem dek sy ‘n skinkbord, maak die hoendersop warm en roep die huishulpe bymekaar om opdragte uit te deel. Daisy hou vir Sunshine stywer onder die duvet vas en raak getroos aan die slaap – iemand is duidelik in beheer!

“Kom, Daisy, sit gou regop. Hier is lekker sop en vetkoeke vir jou om te eet. En lemoensap. Earl Grey gaan nie ‘n duik maak in jou griep vandag nie.” Daisy se eerste gedagte is aan Bernard toe sy bewerig regop skuif teen die kopstuk van die bed. Maar daar is geen teken van hom nie.
“Waar is my man, Ousus? Hy kan mos nie op wees nie – hy weet skaars wie hy is!”

“Sjuut, Daisy. Ontspan jy net en eet iets. Bernard is in die gastekamer. Dis makliker om te sorg as julle nie altwee in dieselfde bed is nie. Ek het klaar vir hom sop gegee en die medisyne wat Plore gaan haal het. Sy koors is klaar af en hy slaap nou. Hoe voel jy?”

Daisy sug en drink lemoensap. “Ek weet nie regtig nie, Ousus. My bors is vreeslik seer van al die hoes. Miskien is dit weer tyd dat ek ook medisyne drink – ek vergeet bietjie daarvan ... En waar is Sunshine?”

“Sy het vriende gemaak met die werfhonde. Plore gooi ‘n bietjie vir hulle ‘n bal op die voorste grasperk. Kom, eet van die sop. Jy het jouself oortref, hoor. Dit is net so lekker soos Mamma s’n.”
Daisy stel nie belang in kos nie. Sy kan haarself nie sover kry om selfs ‘n mondvol sop te eet nie.
“Ousus, daar is iets wat my vreeslik pla. Vroeër het Bernard sommer sulke lang gesprekke gehad toe hy so koorsig was. Met sy seun. Sy SEUN, Ousus! Nou hoe nou? Dink jy hy het nagelaat om so ‘n belangrike ding vir my te vertel?”

Ousus lag. “Dink jy onse Bernard het iewers ‘n liefdeskind wat hy ons nie van vertel het nie? Is dit wat jou pla?”

“Wat anders, Ousus?” Daisy se lip begin klaar weer bewe.

“Kom ek vat net die skinkbord weg en dan kom lê ek hier langs jou, Kleinsus. Ek dink dis tyd dat jy so ‘n bietjie mooi nadink oor ‘n paar dinge.”

Daisy kriewel weer terug onder die duvet in. Dit klink alles vir haar onheilspellend.

Ousus bring vir Daisy drie Romany Creams saam met haar medisyne toe sy terugkom. “Net sodat jy iets in jou maag kry, Daise. Hierdie antibiotika is hel op die derms as jy nie eet nie. Is jy warm en gemaklik?”

“Moenie uitstel nie Ousus. Kom uit met die sak patats!”
“Daisy, anderdag het Bernard met Jacobus gesels. Jy onthou – toe hy oor middagete daar by jou swaer kom braai het. Ek het my uit die voete gemaak want ek kon sien hy wou diep dinge gesels. Agterna het Jacobus net so ‘n bietjie vertel. Bernard het ‘n probleem, Daisy.”
“Watse probleem, Ousus? En hoe kan ek dan nie weet daarvan nie?”

“Die probleem is jou man is broeis. Gewoonlik is dit mos ons vrouens wat ‘n biologiese alarm het en dan weet ons dis tyd vir ‘n pienkvoet. Blykbaar het jy nie so ‘n alarm nie. Maar jou man s’n maak amok. En hy weet nie hoe om dit vir jou te vertel nie. Hy weet jy is ‘n vrygeestige mens en hy wil nie hê jy moet ingeperk en vasgevang voel nie. Veral omdat julle nog nie so lank getroud is nie. Maar hy het ‘n diep begeerte vir kinders – jy weet mos hoe alleen het hy grootgeword.”
Daisy kyk haar Ousus oopmond aan.

“Dan het hy nie ‘n grappie gemaak toe hy gesê het ek moet solank oefen met Sunshine nie! Hy het so wragtig bedoel dat die babahond my moederlike instinkte moet aanwakker.”
Daisy begin giggel. Sy lag al hoe harder, tot ‘n nare hoesbui haar oorval.

“Nou toe, Ousus. Dan is dit so. Kan jy nog brei? En dra bybies deesdae nog booties?”

Daisy - Date: 07 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: