ADVERTISEMENT:

 

131. Daisy is bang sy word ook eendag vervelig

 

“Dink jy dis hoe dit vir almal werk, Bernard? Dink jy almal raak vervelig as hulle ouer word?”

Daisy sit opgekrul in ‘n kampstoel met ‘n kombers om haar. Bernard het ‘n vuur in die boma gemaak, “en net om ons gesonde borste te vier” staan die T-bones reg en die krummelpap stoom sagweg. Hy skink vir Daisy nog ‘n glas sjerrie.

“Wat? Jy, vervelig? Jy word net al hoe meer opwindend, my mooiste!” lag Bernard.
“Ag, ou jêmbek!” giggel Daisy soos ‘n verliefde tiener. Vandat hulle Die Gesprek gehad het en Daisy uiteindelik uitgevind het hoe diep Bernard se begeerte na kinders is, is daar ‘n nuwe verdieping in hulle verhouding.

“Maar ernstig nou, Bernard. Tot die celebrities verdwyn uit die kalklig uit wanneer hulle ouer word. Niks meer skandale of skinderstories nie. Boring. Uitgelewer aan die alledaagse. Pure crimplene en grys skoene en ‘n posbus met die straatnommer op voor jou huis. Maak dit jou nie benoud nie?”
Bernard bly lank stil. Hulle kyk altwee diep in die vuur. Bosveldmeditasie.

“Nee,” sê Bernard uiteindelik. “Nee, alledaags is vir my vreeslik aanvaarbaar. Ek het dêm vreemd grootgeword, Daisy. Ek het die wêreld platgereis saam met my ouers en wanneer hulle ‘n afknyptydjie gehad het, het ons allerhande eksotiese plekke besoek en dinge gedoen. Baie goed vir die algemene kennis en om jou visie te verbreed, maar eintlik wou ek in ‘n karavaanpark by Margate gaan vakansie hou of gaan visvang by St. Lucia. Of sommer net gaan kamp in die bos.

Dit was lekker die eerste paar keer by Disney World, maar ek was altyd daar saam met grootmense. Of ek kon nie met die Yslandertjie kinders gesels nie. Of my ma het gemeen dat die sigeuners in Rome te vuil is om mee vriende te maak...

“Belowe my net een ding, Daisy,” sê Bernard met ‘n skielike intensiteit. “Belowe my ons sal nie net een kind hê nie! Ook nie net twee nie. Ek het ‘n hele rugbyspan nodig om die alleenheid van my kinderjare te verdryf. Die hele helse eetkamertafel moet volgepak wees van ons kinders Kersfeestyd...” Bernard eindig bietjie verleë oor sy passievolle relaas.

Daisy lag. Sy staan op en druk vir Bernard styf teen haar vas.
“My liefste man. Ons het dinge bietjie laat gelos. ‘n Rugbyspan, sê jy? Dink jy hierdie lyf van my gaan dit maak? Dis g’n wonder ek is vol angs nie!”

“Onthou jy hoeveel angs jy gehad het net voor ons troue? Jy het sommer die pad gevat! Hierdie angs klink vir my dieselfde, Daisy. Jy is bitter bang jy verloor jou identiteit, nê?”
“Nee, ek is bang ek raak vervelig. Ek is bang ek moet verantwoordelik wees en grootword. Ek is bang ek kan nie meer die goed op my emmerlys doen nie. Ek is bang dat my grootste ambisie gaan wees om die krakerigste koeksisters te bak vir die skoolsport. En ek is bang ek doen dit net om onderwyseresse te beïndruk en ek haat eintlik elke oomblik daarvan...”

Daisy se lip begin bewe.

“Dit bring ons eintlik by ‘n ander gesprek, Daisy. Waar gaan ons ons rugbyspan grootmaak? Want daar is nie ‘n manier dat ek OOIT ‘n kind van my koshuis toe laat gaan nie! Daar is ook die realiteit dat ek die afgelope jaar my internasionale besigheid grootliks afgeskeep het en die verantwoordelikheid aan my ma oorgelaat het. Maar sy wil haarself begin losmaak; sy is moeg.

Ons het ‘n ooreenkoms gehad dat ek vir ‘n tyd lank meer tyd op die plaas sal spandeer, totdat die gastehuis en ander projekte op hulle eie bene kan staan.”

“Bedoel jy dat ons dalk ... dalk in Johannesburg sal gaan bly?” Daisy sluk senuweeagtig.
“Dit is bietjie meer kompleks as dit, Daisy. Ons het reuse besigheidsbelange in Engeland en nou met Brexit sal ons daarna moet kyk om ons kantore te skuif. Voorlopig lyk dit na Nederland. Ek sal dit persoonlik moet doen, Daisy...”

“Holland, Bernard? Jy is nie ernstig nie! Holland? Daai plek met die tulpe en fietse en houtklompe? Daai Nederland?” Sy draai die kombers stywer om haar lyf en gooi nog ‘n sjerrie vir haarself in.

Daisy - Date: 14 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: