ADVERTISEMENT:

 

92. Daisy ontmoet haar toekomstige skoonma

 

“Daisy, haal asem ... Negatiewe gedagtes uit, kalmte in.”

“Dis maklik vir jou om te praat, Kathy!” grom Daisy. “Dis nie jou aanstaande skoonma wat met ‘n groot geheulery skielik kom kuier nie!”

“Ten minste lyk jy fantasties, my vriendin. En jou huis lyk pragtig met al die blomme wat jy gister gekoop het, daar is genoeg Franse sjampanje in die yskas en jy het jou gô uitge­werk tot laat in die nag om te bak en te brou. Niks sal verkeerd gaan nie - Bernard se ma gaan baie beïndruk wees met jou. Kalmeer nou.”

“Belowe my net jy sal my nie alleen los met haar nie, Kathy,” sê Daisy in ‘n klein stemme­tjie en hou haar arms uit vir ‘n druk van haar vriendin.

Die pragtige, gesofistikeerde vrou wat Bernard ‘n rukkie later uit die vliegtuig help, kyk behaaglik om haar rond voor sy na Daisy toe stap. Sy groet op die Europese manier – drie lugsoene langs Daisy se wange verby – en daar is ‘n sweempie van duur parfuum. Daisy moet haarself weerhou om nie ‘n kniebuiging te maak van pure senuweeagtigheid nie.

“Welkom, Mevrou Young. Dis ‘n voorreg om u hier te ontvang,” begin Daisy wankelrig.
“Daisy, jy het geen idee watter voorreg dit is om hier te wees nie! Maar noem my asseblief Ilse – ek lyk baie meer formeel as wat ek regtig is. En hierdie is seker jou vriendin Kathy? Bernard het my vertel wat ‘n wonderlike ondersteuning jy is vir hom en Daisy.” Drie Europese lugsoene volg.
“Kathy kon nie lammer knieë gehad het as dit George Clooney was wat sy sopas ontmoet het nie,” dink Daisy. “Die verraaier!” Maar sy help darem vir Bernard om die Louis Vuitton bagasie in die Land Cruiser te laai.

Terug by die huis is Ilse die ene komplimen­te oor Daisy se pragtige silwer teestel, die fyn porseleinkoppies en Daisy se nagtelike gebak om die fynste high tea voor te berei. Sy gesels onderhoudend met Bernard oor die plaas en die boerdery en sy vra veral uit oor die gemeenskaps­projekte. “Alle eer aan Daisy, Mamma. Dis sy wat die nood ingesien het vir plaaswerkers om selfstandig te wees en opge­voed te word oor gesonde eetgewoontes. Die hoender- en groenteboerdery floreer. So ook die opleidingsentrum vir die toerismebedryf. Ons het alreeds ‘n paar mense by lodges en gastehui­se hier in die omgewing geplaas, maar ons hou die bestes vir ons eie gastehuis. Ons sal nou-nou ry en gaan kyk.”

“Mmm ... Ilse, ek het gewonder ... Ek bedoel – sal dit reg wees met jou as ons net slaai eet vir middagete? Ek beplan ‘n groot ete vir vanaand, my suster-hulle kom ook oor...”

“Natuurlik, Daisy. Ek sien uit daarna – ek het gehoor jy is ‘n wonderlike kok. Sal jy omgee as ek bietjie gemakliker aantrek om saam met Bernard rond te ry? Ek kan nie wag om in die bos te kom nie!”

Toe Ilse uit die gastekamer kom, hang Daisy en Kathy se monde oop. Die gesofistikeerde dame het haar duur skoene en formele klere verruil vir ‘n kortbroek, plakkies en Panama hoed. Die rooi Chanel lippe is skoongevee en die elegante chignon is nou ‘n poniestert in haar nek.

“Onthou sonroom...” is al wat die verbaasde Daisy in die verbygaan kan uitkry.

“Jy sal my seker nou glad nie meer glo as ek jou vertel van haar leefstyl en blyplek in Monte Carlo nie, Kathy. Want ek kan ook nie glo dis dieselfde mens nie. Sy lyk dan nou so ... so ... wel, nes enige ander mens. Ek beter vir Ousus gaan waarsku om nie met Jacobus te baklei om skoene aan te trek nie – en sy hoef ook nie haar diamante blink te vryf nie.

“Of dink jy sy gaan dalk ‘n elegante nommer­tjie uit haar elegante bagasie optower vir va­naand? Ek weet Oscar de la Renta is een van haar gunsteling ontwerphuise...

“Ag hemel, vriendin, waarin het jy en Bernard my laat beland? Nou weet ek glad nie meer wat om te verwag nie!”

En Daisy begin giggel, met net ‘n tikkie histerie, tot Kathy ook aansteek en hulle lag tot die trane rol.

“Viva Waterpoort,” sê Daisy later. “Never a dull moment.

Daisy - Date: 03 September 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: