ADVERTISEMENT:

 

121. Daisy in die land van tevredenheid

 

“Finland is die gelukkigste land in die wêreld,” verklaar Daisy sonder om op te kyk van haar slimfoon.

“Sal ons trek, my mooiste?” spot Bernard en drink ‘n sluk van sy brannas en Coke.
“Met die vorige Happiness Index was Bhutan so sesde op die lys van die gelukkigste plekke op aarde. Nou is hulle sestiende. En vreemd genoeg is Suid-Afrika gelukkiger as Zimbabwe en Botswana. Gmf. Ek vermoed al lankal ons kla met ‘n wortelkoek onder die arm...”
Bernard staan laggend op en draai die T-bones op die vuur om. “As jy nou net die sous vir ons warm maak en die pap uitbring, gaan die Happiness Index hier langs die vuur met negentig grade styg...”

“Ernstig, Bernard. Wat maak jou gelukkig? Jy is skatflippenryk, maar ek kon nog nooit agterkom dat jy staatmaak op materiële dinge om jou gelukkig te maak nie.” Daisy sit haar slimfoon neer en steek ‘n sigaret aan. “Jy is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan dat mens net soveel goed in ‘n gewone tas kan pak as in ‘n Louis Vuitton of dat ‘n gewone horlosie net so goed tydhou soos ‘n Rolex,” raak Daisy ernstig oor die onderwerp.

Hy wil-wil eers verder vir Daisy verpes, maar Bernard leun agteroor en knoop sy vingers agter sy kop. Hy dink ‘n oomblik.

“Hierdie,” sê hy. “Hierdie wat ons in die aand sit en kyk hoe die son teen die Soutpansberg ondergaan. Om saam met jou ‘n dop te drink en ‘n vleisie te braai. Om vroegoggend wakker te word in die bosveld...

“Maar daar is ook die projekte waarby ek betrokke is. Die uitreikprogramme wat ons hier in die omgewing begin het, om te sien hoe dit mense se lewens verander. Hierdie nuutste projek wat ek saam met Doctors without Borders doen vir vlugtelinge en rampslagoffers oor die hele wêreld ... Dit maak my baie gelukkig om te weet ek maak ‘n verskil.

“En dan is daar vlieg. My eie selfsugtige tydverdryf. Vir solank as wat ek kan onthou wou ek vlieg en dis hoekom ek vir jou die vlieglesse persent gegee het ... dat jy hierdie liefde en vreugde van my kan deel!” Bernard se oë blink en hy glimlag breed.

“Dit alles maak my gelukkig. Jy maak my gelukkig, my mooiste.”

Daisy kyk vir ‘n lang ruk na die gelukkige gesig van haar man. Haar hart loop oor.
“En jy, my mooiste? Jy is skielik so stil. Verskyn ek darem ook iewers op die lys van dinge wat jou gelukkig maak?”

“Spot jy nou, Barries? Spot jy met my omdat ek wonder oor die filosofiese meriete van geluk?” Sy trek haar oë op skrefies en vleg ‘n sliert hare deur haar vingers. “Of spot jy omdat ek so ligweg ‘n hippie geword het wat glo in vrede en liefde vir almal?” Bernard skuif ongemaklik rond op sy stoel. Hy is glad nie seker wat Daisy bedoel nie.

Daisy lag toe sy opstaan en styf langs Bernard op die bank gaan sit. Sy vou haar kaal voete onder haar lang rok met die helder pouveerontwerp in.

“Jý, my liefste ridder op ‘n wit perd, is die hele rede hoekom ek opregte geluk vir die eerste maal in my lewe beleef het. Weet jy?” Sy vryf oor sy baardstoppels; oor die haartjies van sy sonbruin arm.
“Jy het my geleer dat die eenvoudigste dinge in die lewe die meeste waarde het. Jy het my leer ken vol allerhande stadsmaniertjies ... En kyk – hier is ek nou. ‘n Boervrou op Waterpoort!”

“Dit is nou nie hoe ek jou sal beskryf nie, Daise...” Bernard probeer hard om nie hardop te lag nie.
“Ag, my ou man,” sug Daisy. “Ek is so gelukkig om in die oggende bederf te word met koffie en beskuit in die bed. Dis die gelukkigste tyd van die dag vir my. En daardie pragtige kweekhuis vol wit blomme ... Dis suiwer vrede wat daar blom!

“Die projekte wat ons hier op die plaas het, maak my net so gelukkig. Ek geniet dit om kookklasse daar aan te bied en dan die genoegdoening te sien wanneer die leerders werk kry oor die nuwe vaardighede wat hulle aangeleer het. Ek geniet die mense wat kom en gaan by die gastehuis en die stories wat hulle vertel.

“En elke oggend voor sonop, wanneer ek tussen die wit orgideë en kerse sit en mediteer ... Dis dan wat ek weet, Bernard. Dis dankbaarheid vir wat jy elke dag het wat sorg vir gelukkigheid.
“Dit sal my nie verbaas as die gelukkige Finne ook die dankbaarste mense op aarde is nie!”

Daisy - Date: 05 May 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: